Nóg slegte nuus volg na 7kg kankergewas verwyder is
Carien is pas weer in die hospitaal opgeneem nadat 'n probleem ook met haar nierfunksie opgespoor is.
SASOLBURG. – ‘n Tienermeisie, Carien Jacobs (16), se lewe het soos handomkeer verander nadat ‘n massiewe kwaadaardige gewas vroeër vanjaar aan haar eierstok ontdek is. Die gewas van 7 kg is intussen verwyder, maar sy het vroeër die week nóg kommerwekkende nuus ontvang: Haar nierfunksie is tans net 30%, met ‘n moontlikheid dat die kanker ook na dié organe versprei het.
As 16-jarige meisie het die lewe tot November verlede jaar nog vol opwinding vir Carien, ‘n leerling van die Afrikaanse Hoërskool Sasolburg, gewink. Dit was totdat sy einde verlede jaar onverklaarbaar siek geword het.
Volgens haar ma, mev. Chrissie Jacobs, het Carien einde November begin sleg voel. Sy kon nie veel eet nie en dit wat sy wel kon inneem, het nie lank binne gebly nie.
“In Desember het haar magie begin swel en sy het baie gewig begin verloor. Ons het haar dokter toe geneem, wat ons aangeraai het om dadelik ‘n sonar te laat doen. Daarmee is bevind dat sy ‘n groot gewas in haar buik het. Januarie is ons deur Kroonstad toe, waar Carien in die Boitumelo-staatshospitaal opgeneem is. Sy het twee weke daar gelê en verskeie toetse ondergaan voordat sy na die Universitas-hospitaal in Bloemfontein oorgeplaas is. ‘n Week later, op 31 Januarie, is sy geopereer om die gewas van 7kg te laat verwyder.
“Carien is op 2 Februarie ontslaan en ons is op 23 Februarie terug Universitas toe vir haar opvolgondersoek en uitslae. Ons het toe die nuus gekry dat sy eierstokkanker het en ‘n reeks chemo-behandelings sal moet ontvang,” sê Chrissie. Die gesin is Dinsdag, 5 Maart, weer Bloemfontein toe om te hoor wat die verdere stappe in haar behandeling sou wees. Ongelukkig het hulle die slegte nuus gekry dat haar niere slegs 30% funksioneer. Sy is weer in die hospitaal opgeneem en verdere toetse word nou gedoen om vas te stel of die kanker ook hierheen versprei het.
“Ons harte is stukkend. As haar ouers is ons vasbeslote om alles in ons vermoë te doen om haar deur hierdie moeilike tyd te ondersteun,” sê haar ma.
Hoewel Pa Willem ‘n vaste werk het, is die gesin se inkomste nie groot nie. Daar is nie finansies vir onverwagse uitgawes nie en die gesin het tans nie ‘n voertuig nie. Hulle is dus afhanklik van vriende wat hulle gereeld Bloemfontein toe en terug gaan neem vir verdere behandeling, of om Carien in die hospitaal te besoek.
Vir die trotse Jacobs-gesin is dit moeilik om in ander se oë te moet kyk vir hulp, maar hulle besef dat daar op die oomblik geen ander uitweg is nie. Hulle hoop om genoeg geld in te samel om minstens vir brandstof Bloemfontein toe en terug te kan betaal. Enigiemand wat die gesin met ‘n geldelike donasie wil ondersteun, kan ‘n inbetaling doen aan C.M. Jacobs, Capitec Sasolburg, rekeningnommer: 1690486145, takkode: 470010.