Local newsNews

Tyd loop uit vir dié horlosie-versameling

"Elke sekonde is 'n oomblik waarin ons die beste van ons lewens kan maak."

VANDERBIJLPARK. – Die uurglas van ons lewe loop stilweg leeg sonder dat ons regtig daarvan bewus is.
In die huis van Madelyn de Beer tik die sekondes van verbygaande tyd egter af op ‘n baie meer sigbare manier. Sy het tans 12 staan- en muurhorlosies van verskillende groottes en tipes by haar huis in Vanderbijlpark. Dit is die somtotaal van ‘n versameling wat reeds in haar ma se jong dae begin het.

“Ek het in Risiville grootgeword. My ma, Anne Louise de Beer, was die hartklop van ons huis. As wonderlike ma van 10 kinders was sy my vriendin en my ‘huilkussing’. My pa, Mattheus de Beer, was saam met my ma die beste ouers wat God vir ons as kinders kon gee. My pa het hard gewerk om vir ons almal te sorg. Die versamelgogga het my ma dekades gelede gebyt toe my pa haar met ‘n koekoek-horlosie verras het. Deur die jare het sy toe begin om staanhorlosies van verskillende groottes en vorms bymekaar te maak. Vir my as laaste dogter in die huis het dit heelwat afstofwerk beteken en ek het dikwels gewonder of alles die moeite werd was,” sê Madelyn.

Met haar moeder se dood, 19 jaar gelede, het Madelyn alles in ‘n nuwe perspektief begin sien.
“Ek het begin besef dat kosbare tyd verbygaan met elke sekonde wat die wyser aftel. Tyd staan vir niemand stil nie en kan nie teruggedraai word nie. Elke sekonde is ‘n oomblik waarin ons die beste van ons lewe kan maak. So, terwyl ons klok nog stap, maak die beste van alles,” sê sy.

Na haar pa se dood op die ouderdom van 85 verlede jaar, het Madelyn besluit dat die horlosie-versameling se tyd ook nou uitgeloop het. “Dit is tyd om tot siens te sê aan die horlosies en aan ander versamelaars ‘n geleentheid te gee om dit te besit en te waardeer,” sê Madelyn. Belangstellendes wat daarna wil kom kyk en ‘n aanbod wil maak, kan Madelyn kontak by 079 249 0886.

Van die horlosies wat Madelyn se ma deur die dekades versamel het.
Nog horlosies in die versameling.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Check Also
Close
Back to top button