Ballerina dans hoogste punte los
Jonge ballerina van On Pointe Ballet Studio in Vanderbijlpark skitter in eksamens.
VANDERBIJLPARK. – Sy is On Pointe Ballet Studio se prima ballerina wat ligvoets ‘n eerste plek in die Intermediate Cecchetti eksamens losgedans het.
Gina van der Westhuizen is die derde agtereenvolgende danser van Riëtte Odendaal se ballet studio om die hoogste punt vir die Noordwes en Vaaldriehoekstreek in die Cecchetti eksamens te verdien.

Die graad 10-leerder van die Hoërskool Parys het as 4-jarige met balletklasse by Jacky Kampher begin.
Nadat Jacky in 2021 afgetree het, het Gina met haar balletopleiding by Riëtte voortgegaan.
Ballet is haar eerste liefde, maar sy is ook ‘n uitstekende hekkies- en 200 m naelloop atleet wat gekwalifiseer het om hierdie jaar aan die Vrystaat Atletiekkampioenskappe deel te neem.
