Local newsNews

Byna-verdrinking: Klein Auden is tuis maar reageer nog nie

Auden se ogies was die eerste twee maande na die voorval deurgaans toe, maar hy maak dit nou al 'n bietjie oop. Dit is egter nog nie seker of hy kan sien nie

VEREENIGING. – Auden Lamprecht (2), die seuntjie wat sedert 22 Desember verlede jaar in ‘n koma is nadat hy byna verdrink het, is terug by sy ouerhuis na sowat nege weke in ‘n Randse hospitaal.
Hoewel sy ouers, Chanell en Jacques Lamprecht, dankbaar is dat hy terug is in die Vaaldriehoek, is hulle steeds baie bekommed omdat hy nog min reaksie toon. Dokters kon tot dusver nog nie voorspel of hy in ‘n mate gaan herstel of permanent serebraalgestremd gaan wees nie.

Auden en sy 5-jarige sussie was op 22 Desember vir ‘n rukkie in die sorg van iemand anders toe hy in ‘n onbewaakte oomblik by die hekkie van ‘n woonkompleks se swembad ingeglip het. Die hekkie by die swambadafskorting was vermoedelik nie behoorlik op knip nie. Chanell het Auden se sussie hoor skree en is dadelik swembad toe, waar sy Auden in die water aangetref het. Dit is onbekend hoe lank hy in die swembad was. Chanell het hom uitgeruk maar ondanks haar pogings om noodbehandeling toe te pas en hom betyds by ‘n hospitaal te kry, het Auden breinstambeserings opgedoen.

Auden Lamprecht voor die tragedie van 22 Desember verlede jaar.

Auden is na die voorval in die Netcare Alberton Hospitaal opgeneem, waar ‘n voedingsbuis direk in sy magie geplaas is. Hy het ook ‘n trachea-buis in sy nek gekry om hom met sy asemhaling te help. Na weke se behandeling is hy onlangs ontslaan en sy ouers versorg hom nou tuis by hul huis in Vereeniging.

“Hulle het ons geleer hoe om na Boeta om te sien en ons gewys hoe om sy voeding en medikasie deur sy voedingsbuis vir hom te gee. Dit het aan die begin maar rof gegaan om hom in ‘n roetine te kry, maar ons pas aan. Hy kry elke Woensdag fisioterapie en ons is ook gewys hoe ons tussendeur fisio-oefeninge met hom moet doen. Sy voetjies is nog baie spasties, waarvoor hy binnekort spalke gaan kry,” sê Chanell.

Auden se oë was die eerste twee maande deurgaans toe, maar hy maak dit nou al ‘n bietjie oop. Dit is egter nog nie seker of hy kan sien nie omdat hy nog nie op visuele stimuli reageer nie. Hy is skynbaar ook doof in sy regter-oor.
“Ons kan sien dat hy by tye baie ongemaklik is en probeer moan, maar omdat daar steeds ‘n buis in sy keel is, kan hy nog nie geluide maak nie,” sê Chanell.

Auden moet binnekort vir opvolgondersoeke en verdere toetse na ‘n pediater en neuroloog gaan, waarna ‘n meer omvattende prognose oor sy verwagte herstel gegee sal kan word.

Intusen probeer Jacques en Chanell om hul seuntjie na die beste van hul vermoë te versorg. “Met tye raak dit moeilik. Daar is dae wat ons lag en daar is verseker dae wat ons huil, maar met die Here se genade kan ons elke dag aangaan. Bid, glo en vertou… dit is ons motto,” sê Jacques.

* Auden se mediese uitgawes en toekomstige behandeling gaan derduisende rand kos en ‘n Back a Buddy-rekening is vir hom geopen. Enigiemand wat die gesin graag wil ondersteun, kan meer daaroor lees by https://www.backabuddy.co.za/champion/project/auden-lamprecht-5817359056711185893, of maak ‘n skenking direk in hul bankrekening: Capitec Bank, C. Strydom, rekeningnommer: 1683221735 (spaarrekening).

Klein Auden word in die ambulans gelaai.
Mamma Chanell met klein Auden.
Auden het steeds buise in sy maag en nekkie om hom met sy voedinginname en asemhaling te help.
Chanell en Jacques Lamprecht besig met die versorging van klein Auden.

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Check Also
Close
Back to top button