Local newsNewsNews

‘n Oog vir mooi goed en baie poppe

Lynn Emden versamel porseleinpoppe en elkeen het 'n storie.

VEREENIGING. – Sommige mans het ‘n man-cave, maar Lynn Emden het ‘n she-shed. Ruim en in wit en pienk getooi deur haar wederhelf, Rick.

Dis hier waar sy rustig kan verf en werk met Zoë, die labradorkruising naby. In die een hoek hang daar teelepels van regoor die wêreld. Elkeen ‘n kunswerk, elkeen met ‘n storie.

“Nee, ek was nie by al die plekke nie,” skud Lynn kop, “ons het baie in tweedehandse winkels gekry of uit privaat versamelings.”

Zoë is Lynn se skaduwee en lê altyd by haar ma as sy werk of skilder.

Oral is daar porseleinpoppe. Dit het alles begin toe ‘n vriendin van haar se seun, Michael Tolmay vir haar ‘n pop vir haar verjaardag gegee het.

“Ek verjaar in Februarie, Michael is in Junie daardie jaar oorlede,” vertel Lynn. Sy het steeds die pop. Daarna kon sy nie ‘n porseleinpop by haar laat verbygaan nie.

Vir van hulle het sy so ver as Klerksdorp, Boksburg en Benoni gery. Elke pop wat huis toe gekom het se klere is gewas, die pop is gebad en die hare is gewas.

“Met shampoo en conditioner,” beduie Rick. Lynn het tans meer as 1 000 poppe van alle groottes.

Om spasie vir haar skilderwerk en boeke te maak, het sy onlangs die meeste in kratte gebêre, maar haar gunstelinge is nog almal op die rak.

Onder haar versameling is daar drie nonne wat haar na aan die hart lê en dan is daar die seuntjiepop met sy blou pakkie, en ‘n baba in ‘n dooprokkie.

Die vrou by wie sy die twee poppe gekoop het, se kinders is in die klere gedoop. Haar eie kinders was op ‘n stadium bang om by die poppe in te loop.

Hulle het gesê: “Daar is te veel oë wat staar,” lag Lynn. Een van die poppe is baie oud en kan opgewen word om blikkerige musiek te speel. “Dan beweeg die kop so stadig met die groot oë. Sy is scary en weggepak.”

Tussen die baie poppe op die rak, die teelepels netjies gehang, die boeke en getroue Zoë is hierdie Lynn se heiligdom waar sy haar kreatiwiteit in vrede kan uitleef.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button