Local newsNews

Midvaal ontvang sy TIENDE skoon oudit!

"‘n Besonderse woord van dank aan Midvaal-munisipaliteit se personeel en bestuur vir hul insig en insette om van Midvaal die Beste Munisipaliteit in die land te maak."

 

Hoofsweep Rapport Nommer 101

Deur Phil C. Pretorius, Raadsheer en Hoofsweep, Midvaal Munisipaliteit:
Die Geïntegreerde Ontwikkelingsplan-vergaderings (IDP) is pas afgehandel in al die wyke van Midvaal en hul inwoners het die geleentheid gehad om by hierdie openbare vergaderings hulle idees vir wykprojekte voor te lê en met die burgemeester en die MMCs te bespreek. Indien enigiemand nie die vergaderings kon bywoon nie, is u welkom om steeds voorstelle deur te stuur na u wyksraadslid of idp@midvaal.gov.za.

Projekte sluit onder andere parkies, nuwe straatligte, voetpaaie, sportvelde, ens. in. Klagtes of probleme soos grassny, stukkende straatligte, slaggate en elektristeitsmeters is nie ‘n GOP (IDP) aangeleentheid nie en word aangemeld by die Kliëntedienssentrum by 087 106 2471, of op die MyMidvaal App, of op die nuwe WhatsApp Chatbot by 081 876 0408.
Die opgradering van Johan le Rouxstraat het in Februarie 2024 begin en behoort in Augustus vanjaar teen ‘n koste van R18-milhoen voltooi te wees. Die gedeelte vanaf die Midvaal Brandweer in Gallowaystraat tot by Morrisstraat in Meyerton aan die oorkant van die treinbrug word herstel. Hierdie deel is veral oor die laaste paar jaar deur swaar voertuie gebruik aangesien dit die Meydustria en besighede in die omgewing bedien maar is ook die hoofroete na die Vaaldam vir baie besoekers oor vakansies en naweke. Die pad het besonder goed gehou as ons die ouderdom daarvan in ag neem.

Die gedeelte van Johan le Rouxstraat tussen Meyer- en Gallowaystrate gaan dan ook effens verbreed word (nou wel nie met meer bane nie) en randstene kry om die afvloei van reënwater te help kanaliseer. Die gedeelte van Johan le Roux tussen Pierneef-boulevard en Gallowaystraat is ongeveer vier jaar gelede oorgedoen en lyk vandag steeds splinternuut. Projekte soos hierdie neem egter etlike jare vandat dit geïdentifiseer word totdat dit tot uitvoering kan kom aangesien die beplanning, spesifikasie-opstelproses, tenderproses en -toekennings, en dan die voorbereiding van die terrein deur relatief gekompliseerde administratiewe prosesse moet gaan. Die feit dat Midvaal hierdie projek al jare gelede voorsien en begin beplan het en nou reeds tot uitvoering bring, is ‘n getuienis van effektiewe bestuur en finansiële besteding. Die beplanning is ook perfek aangesien die pad die laaste ses maande eers betreklik agteruitgegaan het en nie meer deur blote slaggatherstel suksesvol gerehabiliteer kon word nie.

Dit is dan ook vir my ‘n besondere voorreg om aan te kondig dat Midvaal sy TIENDE agtereenvolgende skoon oudit van die Ouditeur-generaal ontvang het. Dit word al so deel van ons mondering dat ons dink dit is maklik en ‘n gegewe, maar ek moet byvoeg dat dit intense bestuur en oorsig neem om hierdie massiewe skip op die regte roete te hou. Dit is maklik om te sê dat dit die munisipaliteit se werk is en dus geen groot prestasie is nie maar wanneer ons in ag neem hoeveel munisipaliteite nie hierdie toets slaag nie en met hoeveel meer intensiteit na Midvaal gekyk word, is dit tog ‘n veertjie in Midvaal se hoed. ‘n Besonderse woord van dank gaan aan ons Midvaal-personeel en -bestuur vir hul insig en insette om van Midvaal die beste Munisipaliteit in die land te maak.
Trotse Midvaal groete. Phil.

Web: www.midvaal.gov.za
Facebook: Midvaal Local Municipality en Midvaal News Network
Tel: 0861 643 8225
MyMidvaal App

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Check Also
Close
Back to top button