Local newsNewsNews

Ek sê maar net… Wanneer tegnologie skewebek trek

RUBRIEK. - Selfs joernaliste moet soms 'n opknappingskursus bywoon, maar met moderne tegnologie is dit nie altyd so maklik as wat dit klink nie.

RUBRIEK. – Ons is almal op ‘n missie om ons insig in al die regsaspekte rondom verslaggewing op te skerp. Die goete verander mos gedurig en dis belangrik om te weet wanneer mag wat geplaas word.

In die ou dae sou ons seker almal moes afsit hoofkantoor toe om daar ‘n weeklange kursus te doen. Maar in ‘n mediakantoor met vele spertye is dit ‘n saak van onmoontlikheid.

Gelukkig is daar mos nou se dae rekenaartegnologie en interessante dinge soos Zoom. Dit beteken jy kan van enige plek af ‘n opleidingsessie bywoon.

Ja né? Makliker gesê as gedaan. Die 90 minute opleidingsessies is geskeduleer vir Donderdae of Vrydae.

Verlede Donderdag was dit Christiaan, Ettienne, Zach en Lerato se beurt. Die skakels is vroegtydig gestuur. In teorie moet jy net op die skakel klik en voila.

In praktyk is dit ‘n perd van ‘n ander kleur. Eers ontdek Ettienne sy oorfone lê by die huis. Toe kry Christiaan nie lekker opvangs nie.

Hy is naderhand die hele kantoor vol met sy skootrekenaar teen sy oor om te probeer hoor.

“Ek gaan in my motor sit. Dit raas te veel hier binne” en Christiaan is by die deur uit. Skaars uit en hy is terug. “Ek het die WiFi buite verloor.”

Intussen het Ettienne die sein verloor, weer gekry en weer verloor. Eindelaas is hul sessie klaar. Christiaan kry die elektroniese register om in te vul.

“Nee man, ek tik nog toe vul iemand hul naam bo-oor myne in.” Ek en Elsje skud net kop en gaan aan met die Vaalweekblad.

Die drukkers wag vir niemand nie. Vrydagoggend is dit ons beurt. Ek maak vir ons koffie en ons kry ons sit agter die rekenaars.

Elsje se video verskyn en haar mikrofoon werk. Myne aan die anderkant… My naam is daar. Ek kan alles hoor en sien, maar self kan ek nie op kamera verskyn nie en ek kan nie boe of ba sê in die groepbespreking nie.

Moeilik vir ‘n joernalis om stil te bly. As ek nou net tyd kry, dan sal ek my oorfone en kamera en Zoom voor die opleidingsessie toets.

As ek tyd kry. Ek dink nie ek gaan nie, sal maar oor Elsje se skouer waai dat hoofkantoor darem kan sien ek is ook teenwoordig. Sela!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button