Local newsNews

Groot kommer oor kind voor hospitaal

"Dis hartverskeurend om te sien hoe hy stoksiel alleen voor die hospitaal sit en bedel."

 

VEREENIGING. – Die Vaaldriehoek was dekades gelede ‘n welvarende gebied wat ekonomies geblom het. Werkgeleenthede was volop en jy het min bedelaars op straat gesien. Maar dinge het verander. Met die insinking van die ekonomie, die sukkelende staalbedryf en afleggings wat gevolg het, is hier nou baie armes van alle rasse. Dit sluit kinders en bejaardes in. Voeg daarby die gevolge van die Krion-fiasko, 20 jaar gelede, en die omvang van armoede in die Vaaldriehoek is dalk veel groter as wat ons besef.

‘n Inwoner, Naomi van Niekerk, het verlede week haar kommer oor een so ‘n geval met Vaalweekblad gedeel. Naomi vertel:

“Ek loop nou al ‘n paar dae met ‘n ding wat my pla: Ons was verlede Maandagnag met my dogter by die ongevalle-afdeling van ‘n private hospitaal in Vereeniging.
“Jinne, en nadat ek die tweede keer buite toe gaan om te gaan bene rek van al die gesit en wag, kom daar mos ‘n kind na my toe – ‘n wit seun. Ek skat hom so 9 of 10 jaar oud. Hy vra my toe of ek hom kan help met kos of geld vir kos. Ek vra hom waar sy ouers is want dit was al na 12 die aand. Nee, sy ouers is daar onder in die dorp, sê hy.
“Ek gesels toe verder met hom en hoor hy is in Laerskool Handhawer. Hy gaan “bad” soggens by ‘n motorhawe in die toilette, dan gaan hy skool toe. Hulle slaap op straat of by ‘n huis vir haweloses as hulle kan geld kry om te betaal vir die kos en ‘n bed vir die nag.

“Woensdagnag het ons weer dieselfde kind voor die hospitaal gekry – net na 01:00 die oggend. Dis hartverskeurend om te sien hoe hy stoksiel alleen voor die hospitaal sit en bedel. Hy sê dis die enigste veilige plek in die omgewing. Is daar dalk iemand wat kan help om die welsyn of ‘n ander betroubare instansie se hulp vir hom en sy gesin in te roep want ek het nie ‘n idee waar om te begin om hulp vir hulle te kry nie.”

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Check Also
Close
Back to top button