Local newsNewsNews

Gesoek: Pampoen wat meer as 1 ton weeg

Meyerton se pampoenkoning, Wykus Lamprecht, gaan vandag na die Goliat van Gat Pampoenfees in Silverton om sy pampoen te laat weeg.

MEYERTON. – Sal Meyerton se onbestrede pampoenkoning, Wykus Lamprecht, weer vanjaar daarin kan slaag om rekords by die jaarlikse Goliat van Gat Pampoenfees te laat spat?

Mens sal maar net moet wag en sien…

Volgens Henri Combrink, voorsitter van TLU SA se Cullinan Boereunie, die organiseerders van die jaarlikse pampoenfees, hoop hulle dat die kompetisie vanjaar ‘n pampoen van een ton kan oplewer.

Om deelnemers aan te spoor is daar vanjaar prysgeld van R25 000 (wat deur Laeveld Agrochem geborg word) op die spel.

Die pampoenfees vind vandag (16 Maart) vanaf 13:00 tot 18:30 by die Pretoria Boeremark-skougronde in Silverton plaas.

“Daar is baie belangstelling in die pampoenfees en ons verwag vanjaar baie nuwe deelnemers,” sê Combrinck.

Wykus, ‘n 35-jarige elektromeganikus van Golfpark in Meyerton, het die kompetisie verlede jaar vir ‘n derde agtereenvolgende jaar gewen met sy wenpampoen Liesbet, wat die skaal op ‘n allemintige 890 kg laat kreun het.

Wykus Lamprecht met sy wenpampoen, Liesbet, wat die skaal verlede jaar op ‘n allemintige 890 kg laat kreun het. Foto: Facebook

Oor sy kanse van ‘n vierde oorwinning is Wykus maar beskeie.

Hy het aan Vaalweekblad gesê: “Die pampoen wat ek dié jaar na Goliat van Gat toe vat groei in my eksperiment tuin. My groot tuin se grond is moeg en moet eers weer aan gewerk of reggestel word as ek weer pampoene oor die 500 kg daar wil groei. Poppie in die klein tuin sal sekerlik hopelik naby die 600 kg weeg as ek moet skat.”

Wykus mag dalk net die sade van sy eie ondergang in vanjaar se kompetisie gesaai het toe hy die pitte van Liesbet, sy wenpampoen van 2023, aan ywerige pampoengroeiers verkoop het.

“Liesbet se pitte is uitverkoop, so die goeie gene is in die groen vingers se hande. Wie weet, dalk is daar ‘n ton daar buite wat deur die geheime diens gegroei word?” het Wykus skertsend vertel.

Wat volgens Wykus seker is, is dat daar vanjaar heelwat mooi pampoene by Goliat van Gat sal wees en dat die kompetisie vanjaar met ‘n rekordgetal inskrywings sal spog.

“Ek skat dat daar vanjaar tussen drie of vier pampoene oor die 500 kg sal weeg,” meen Wykus.

Daar sal volgens TLU SA vanjaar pryse wees vir die grootste pampoen, die mooiste pampoen en die lelikste pampoen.

Daar sal ook ‘n saadspoegkompetisie wees.

Die pampoen wat die meeste weeg sal by die Uitkyk Vleismark in Silverton uitgestal word vir ‘n paar dae, voordat dit opgesny word en aan minderbevoorregtes uitgedeel word.

Wykus Lamprecht, ‘n driemalige wenner van die Goliat van Gat Pampoenfees, het groenvingers  en ‘n ding vir reusagtige plante. Foto: Facebook

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button