Mense se oë boei dié voormalige sport-ster
Gloukoom: Laat toets betyds om jou sig ten beste te bewaar

VANDERBIJLPARK. – In die 1990’s het Vaalweekblad gereeld berig oor ‘n jong provinsiale atleet en Cravenweek-rugbyspeler, Johan de Lange, vir wie ons groot sukses as ‘n sportman voorspel het. Min het ons toe geweet dié skoolseun sou na vele studie-omswerwinge as volwassene na die Vaaldriehoek terugkeer om ‘n ánder passie uit te leef: Hy dien die gemeenskap nou as toegewyde oftalmoloog (oogspesialis).
Johan, ‘n gebore Vanderbijlparker, was hoofseun van die Laerskool DF Malherbe en onderhoofseun van die Hoërskool Transvalia, waar hy in 1997 gemaktrikuleer het. Hy het besluit om in sy pa, ‘n algemene praktisyn, se voetspore te volg en medies aan die Universiteit van Pretoria te gaan studeer, waarna hy sy internskap en hospitaaljaar in Klerksdorp se provinsiale hospitaal voltooi het.

Van 2006 tot 2010 het hy saam met sy pa in privaatpraktyk in Vanderbijlpark gewerk, maar omdat die menslike oog hom nog altyd gefasineer het, het hy besluit om in dié rigting te spesialiseer.
“Ek het nog van altyd af ‘n voorliefde vir die moderne tegnologie en om vinnige resultate te kry as dit kom by my diens as ‘n dokter. Ek kon die twee kombineer in oftalmologie, waar nuwe tegnologie dit een van die vinnigste-vorderende mediese dissiplines maak. Danksy die gebruik van lasers het ‘n oftalmoloog die voordeel om uitskomstes te verbeter. Mikrochirurgie is ‘n voorbeeld hiervan, waar baie fyn werk noodsaaklik is,” verduidelik hy.
Nadat hy van 2010 tot 2012 as mediese beampte in oftalmologie by die Pretoria-Wes Provinsiale Hospitaal gewerk het, was hy van 2013 tot 2016 as kliniese assistent aan die Universiteit van KwaZoeloe Natal (UKZN) verbonde. In 2016 het hy sy Genootskap (Fellow) in Oftalomologie van The Colleges of Medicine of South Africa (CMSA) ontvang en in 2017 sy meestersgraad aan UKZN verwerf. Hy is boonop as die universiteit se beste kliniese assistent in sy veld aangewys.
In 2017 het hy as ‘n private oftalmoloog by Ocumed Oog- en Laser Instituut in Vanderbijlpark aangesluit. Hy is onder andere lid van die Ophthalmological Society of South Africa (OSSA), die South African Glaucoma Society (SAGS) en Southern African Society of Cataract and Refractive Surgery (SASCRS) en woon gereeld nasionale en internasionale kongresse by. Sodoende bly hy op hoogte van die modernste tegnologie en tegnieke, en lewer self ook voorleggings.
“Ek het nog nooit daarteen opgesien om werk toe te gaan nie. Ek geniet alle aspekte daarvan,” sê dr. Johan. “Dis onskatbaar bevredigend om die glimlag op mense se gesigte te sien as hul visie danksy behandeling oornag van swak na baie goed verbeter. In gevalle soos met gloukoom, waar skade ongelukkig nie omgekeer kan word nie, is daar wel ook vreugde as die pasiënt na ses maande vir ‘n opvolgondersoek kom en ons kan vasstel dat daar nie verdere agteruitgang was nie.”
Weens die droë lug en lugbesoedeling in die Vaaldriehoek is hier ‘n hoër insidensie van droë oë en ooglidsiektes as in kusgebiede, maar die voorkoms van katarakte en gloukoom is dieselfde as in ander streke, sê hy.
Met gloukoom-week wat hierdie maand wêreldwyd gedenk word, benadruk hy dit dat vroeë opsporing en behandeling kan help om ‘n mens se sig te bewaar, al kan die skade wat reeds aangerig is nie omgekeer word nie. Gloukoom is ‘n siekte wat met verhoogde druk in die oë geassosieer word en die oogsenuwee oor ‘n lang tyd beskadig word. Dit kan eindig in blindheid. Nie almal met hoë oogdruk gaan gloukoom kry nie, en nie almal met lae druk gaan dit vryspring nie. Die beste raad is om jou oë te laat toets, veral as jy ‘n familiegeskiedenis van die siekte het of ouer as 40 is. Die risiko om gloukoom te kry, verhoog met ouderdom maar in sommige gevalle word babas reeds daarmee gebore, sê dr. Johan. Die behandeling is pynloos en kan oogdruppels, laserchirurgie en dreineringsapparate insluit – behandelingsmetodes wat alles by sy praktyk aangebied word.
“Ons strewe daarna om aan die voorpunt van tegnologie te wees en die beste moontlike tegnologie in die Vaaldriehoek beskikbaar te hou,” sê hy.
Dr. Johan is getroud met sy skoolliefde, Maria, ‘n spraakterapeut en oudioloog wat bereid was om haar praktyk prys te gee ter willie van sy professionele loopbaan. Die egpaar het drie seuns van onderskeidelik 15, 10 en 8 jaar. Hoewel hy steeds mal is oor alle sport, is dr. Johan se eie sportbedrywighede nou hoofsaaklik tot die ondersteuning van sy drie seuns langs die veld beperk.
“My gesinswaardes is verskriklik belangrik vir my. Ek is iemand wat my voete plat op die aarde hou, met my oë na Bo gerig.”

Gloukoom: Dr. De Lange gee antwoorde op kwelvrae:
‘n Mens se oë is verreweg ons belangrikste sintuie omdat tot 80 persent van ons interaksie met die omgewing om ons, danksy ons sig kan plaasvind. Selfs al verloor mens ander sintuie soos smaak of reuk en dalk selfs gehoor, is goeie visie ‘n voorvereiste om tot op ‘n gevorderde ouderdom nog relatief selfstandig te kan funksioneer. Om dié rede kan die waarde van voorkomende oogsorg nooit oorbeklemtoon word nie.
Oogsiektes soos gloukoom kan ‘n mens se visie stilweg wegkalwe sonder dat jy aanvanklik daarvan bewus is. Gevorderde gloukoom kan jou uiteindelik blind laat.
Gloukoomweek word wêreldwyd in Maart gedenk om bewusmaking oor dié toestand by die publiek te bevorder. Alle mense bo 40, en veral diegene in risikogroepe, word gedurende Gloukoomweek aangemoedig om hul oë vir die siekte te laat toets en betyds behandeling te kry.
Dr. Johan T. de Lange, ‘n oftalmoloog (oogspesialis) verbonde aan Ocumed Oog- en Laser Instituut Institute in Vanderbijlpark, antwoord hier ‘n paar vrae oor gloukoom, wat gereeld deur mense gevra word wat besorgd is oor hul eie of hul geliefdes se oë.
Wat is gloukoom?
Gloukoom is ‘n oogsiekte wat jy kan hê, waarvan jy nie noodwendig bewus is nie. Die oogsiekte kan ‘n mens se oogsenuwee aantas. Die oogsenuwee is verantwoordelik daarvoor om die beelde wat jy sien, na jou brein te stuur, maar wanneer die senuwee aangetas is, kan dit nie meer optimaal plaasvind nie. Dit kan oor tyd dus tot visieverlies en selfs blindheid lei. Klagtes begin eers wanneer die siekte al ver gevorderd is, maar ongelukkig is daar teen daardie tyd meestal reeds gevorderde permanente skade aan jou visie.
Wanneer is ‘n mens meer geneig tot gloukoom?
Die definitiewe oorsaak van gloukoom is nog nie bekend nie. Indien een van die volgende faktore op jou van toepassing is, kan jy meer geneig wees tot gloukoom:
* ‘n Familiegeskiedenis van gloukoom
* ‘n Vorige besering aan die oog
* ‘n Geskiedenis van erge infeksie in die oë
* Geblokkeerde bloedvate in die oog
* Gediagnoseer met inflammatoriese toestande
* Afkoms van Afrika
* Bysiende of versiende
* Ouer as 40 jaar
* Gebruik van kortisoon vir ander siektetoestande
* Diabetes
Kan ek gaan vir toetse om te bepaal of ek dalk gloukoom het?
Daar is ‘n basiese toets wat deur ‘n oogspesialis of optometris gedoen kan word om te bepaal of die oogdruk in die oog verhoog is. Die toets is pynloos en baie vinnig. Dit skakel ongelukkig nie noodwendig gloukoom heeltemal uit nie en meer gespesialiseerde toetse word dan deur die oogspesialis gedoen om die diagnose te bevestig of nie. Dit is darem ook pynloos.
Indien ek gediagnoseer word met gloukoom, wat kan ek verwag?
‘n Oftalmoloog (oogspesialis) behandel persone wat met gloukoom gediagnoseer is. Die oftalmoloog sal verder toets om te bepaal of daar skade aan die oogsenuwee is, die kornea dalk verdik is en of daar al enige visie-verlies is as gevolg van die gloukoom. Die oogspesialis sal op grond van die resultate van dié toetse, ‘n behandelingsplan uitwerk. Hierdie plan kan oogdruppels en medikasie, laserbehandeling en/of chirurgie insluit.
Wat kan ek doen om my oë te beskerm?
Voorkoming is die belangrikste vorm van beskerming. Dit is uiters belangrik om vir gereelde ondersoeke te gaan om te bepaal of die druk in jou oë verander. Dis makliker om die skade te probeer keer as om skade wat reeds gedoen is, te probeer omkeer.


Kontak dr. Johan T. de Lange se spreekkamer by 016 982 4281 om meer oor die behandeling van gloukoom uit te vind, of besoek Ocumed Oog- en Laser Instituut (Gebou 2) by Vaal-rylaan 17, Sylviavale, Vanderbijlpark.