Ek sê maar net… Die avoboom wat uit die dood verrys het
RUBRIEK. - Nie gedink dis moontlik nie, maar dié avo-boom het wraggies uit die dood verrys.
RUBRIEK. – Kuier ons bietjie by my niggie in Brakpan. Volgende oomblik pluk Ma haar selfoon uit. “Kyk bietjie hoe lyk ‘n avoboom wat in Gerda se sorg gelaat is.”
My niggie kyk besorg, maar ek sien sy wil lag. Almal weet ek verpes tuinmaak in enige vorm of aard, al van kleintyd af.
Was altyd so kwaad as ons by Ouma Bessie gaan kuier het en dan is sy op haar knieë in die tuin besig om “net gou ‘n paar plantjies te plant”.
Allegeval, dekades later is die bewys van my totale gebrek aan belangstelling in ‘n kleurfoto vasgevang op Ma se selfoonskerm.
Die avoboom, wat Pa nog met ‘n pit van die groot avokado-plaas se oorspronklike boom in Graskop, in die water gesit het, het twee weke gelede treurig gelyk.
Meeste mense sou dit reeds dood verklaar het. My skuld 100%. Ma was vir maande ongesteld en ek het net so eenmaal per maand onthou om water te gee.
Vreeslik. Ek weet, maar ek is besig man. Ma het intussen herstel, ‘n sak plantkos vir haar verjaardag gekry en die boom begin liefde, aandag en baie water gee.
Eers dog ek, ek verbeel my dat die boom begin lewe toon. Maar, wraggies toe ek ‘n paar dae later daar verbystorm, is dooie boom in groen getooi, nuwe blaartjies net waar jy kyk.
Terug op die stoep, sit Ma met die selfoon in die hand. Daar is ‘n dramatiese stilte, voordat sy die volgende foto wys. “Kyk, hoe mooi lyk hy nou,” verklaar sy.
My niggie stem saam, die transformasie is wonderbaarlik. “Tot die ou van tuindienste wou weet of ek ‘n ander boom geplant het,” glimlag Ma breed.
Ek kry weer een van daai kyke. “Moet net nooit ‘n plant of tuin in Gerdatjie se sorg los nie.”
Ek dink vinnig. “Ma het my hele projek bederf. Ek was besig om ‘n pragstuk te skep. ‘n Kunswerk in dooie hout. Ek wou dit afneem vir ‘n fotografie-kompetisie,” verontskuldig ek myself met ‘n groot liegstorie, wat niemand glo nie en selfs my serebraal gestremde neef oor begin lag. Sela!
