Local newsNews

Na terugslag stap Michiel vorentoe … in sy eie vellies!

Na 27 jaar diens as takbestuurder in Vanderbijlpark, sluit sy werkgewer en moes hy vinnig planne maak om 'n nuwe inkomste vir hom en sy gesin te genereer.

 

VANDERBIJLPARK. – Wanneer ‘n man met byna 30 diensjare hoor dat jou werkgewer se deure sluit en jy skielik sonder ‘n inkomste sit, is dit verpletterende nuus. Dit was ook die geval vir Michiel Pretorius toe die mat verlede jaar skielik onder hom uitgeruk is. Hy het egter nie by dié terugslag vasgesteek nie maar dit gesien as ‘n geleentheid om op sy stokperdjie as skoenmaker terug te val as ‘n nuwe bron van inkomste.

Michiel het sedert 2004 as ‘n tydverdryf met leer begin werk terwyl hy nog by Rheem SA in Vanderbijlpark gewerk het. In 2017 het hy vellies en stewels begin maak, maar steeds net as ‘n stokperdjie.
“In April 2022, met die enorme vloed deur Durban, het ons hooftak wat reg langs Toyota se fabriek was, verspoel. Lang storie kort, aan die begin van 2023 deel die uitvoerende bestuurshoof ons mee hy gaan die hele fabriek toemaak en betaal almal af. Ek het in daardie stadium 27 jaar diens as takbestuurder in Vanderbijlpark gehad. Toe val ek maar terug op my stokperdjie om skoene te maak en doen dit nou voltyds. Ek werk tans alleen maar kry so oor naweke en vakansies hulp van my kinders. My middelseun beplan om na matriek, volgende jaar, voltyds saam met my te begin werk,” sê Michiel.

Hy het die meeste van sy skoenleer by Midland Tannery in Wolwehoek gekry, maar nadat die onderneming einde verlede jaar toegemaak het, is hy nou aangewese op Leather from Hart in Pietermaritzburg, waar hy reeds sy dik “Vegetable Tan” leer koop. Dit is daardie wit en donkerbruin leer net bo die sool.

“Ek gebruik net egte leer in my skoene en geen ‘sole board’ soos meeste van die ander vellie-vervaardigers nie. Die Veg Tan, soos ons dit noem, is baie gesond vir die voete en is anti-bakteries, so dit keer dat sweetvoete stink. Inteendeel, daar is nie meer sweetvoete nie. Ek het persoonlik daarmee gesukkel weens die veiligheidskoene wat ek elke dag moes dra, maar vandat ek nou net my eie vellies dra, is dit iets van die verlede,” sê Michiel.

Hy was aan die begin van 2017 so gelukkig om skoenlemme op ‘n vandusie in Pietersburg te kon koop van ‘n skoenfabriek wat toegemaak het nadat die eienaar oorlede is. Van daar af het hy begin met die vellies en later die stewels ook. Hy het mettertyd nog masjiene aangekoop met die oog daarop om op 55 af te tree, maar toe gebeur dit vroeër as wat hy beplan het.
Middel verlede jaar het hy ‘n amptelike skoenkursus by Footwear Design & Technology in Pretoria deurloop. Glyn Giani is die eienaar en een van die top skoenontwerpers in Suid-Afrika, wat sy ambag in Italië en Switzerland gedoen het.

“Ek het ongelooflik baie geleer van skoenontwerp en mense se voete. Suid-Afrikaners se voete is baie reguit in vergelyking met dié van Europeërs. Ons het in Suid-Afrika ook ‘n probleem met baie breë voete, veral onder die boere, waar ons ander volksgenote hoofsaaklik smal voete het. Ek doen meestal die ‘stitch down’ konstruksie-tipe skoene, maar kan ook die ‘Goodyear welted’ skoen maak. Dit vat ongelooflik baie tyd, maar daai tipe skoene hou amper vir ewig. Dis nou tipies iets soos Cowboy boots, Oxfords en Derby’s,” verduidelik hy. Mense wat meer wil uitvind oor Michiel se skoene, kan hom kontak by 082 347 2305.

Michiel Pretorius.

VOORBEELDE VAN MICHIEL SE SKOENE:

Michiel Pretorius in sy werkswinkel by voorbeelde van sy vellies.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button