Goud vir Valie by SASOL Marathon
'n Plaaslike atleet van die ArcelorMittal Atletiekklub het in die SASO Sasolburg marathon getriomfeer. Lees hier meer...
SASOLBURG. – Die 29ste SASOL Sasolburg Marathon is in byna perfekte weersomstandighede deur Thabiso Mosekili van ArcelorMittal Atletiekklub in ‘n tyd van 02:28:12 gewen.

Pule Hlabahlaba (02:32:50) was tweede en Mbongeni Ndlovu (02:33:38) derde. In die 42,2 km vrouewedloop het Kebogile Motshabi van Pan African Resources onder die kompetisie uitgehardloop en in 03:00:02 klaargemaak.
Dit was vier minute vinniger as Renata Vosloo wat in die tweede plek in ‘n tyd van 03:04:17 die DP de Villers-stadion ingekom het.
Onder die atlete wat die 42.2 km aangedurf het, het 83% gekwalifiseer vir die Comrades Ultra Marathon deur die wedloop binne 04:49:59 te voltooi.
Die verrassing van die dag was toe die uitvoerende burgemeester van die Fezile Dabi Munisipaliteit, rdl. Dennis Khasudi die 5 km met ‘n glimlag voltooi het onder die trotse oog van voormalige 10 000 m Springbokatleet, Abel Lekgare.

Van novises tot veterane het die dag geniet. Die organiseringsspan van SASOL wat alles van die VIP-tent tot by hulself in helder kleure getooi het, verdien weer eens ‘n pluimpie.
Die dag is goed georganiseer met heelwat atlete en hul gesinne wat nadat hulle hul onderskeie wedlope voltooi het, op die pawiljoen en veld verdere ondersteuning aan inkomende atlete gebied het.
Hoed af ook vir Rozaan Steyn, Gerrie Hadders (albei MS-lyers), die ander MSlyers en hul ondersteuners wat die 5 km met stapstokke in die hand aangedurf en voltooi het.
Die volledige uitslae is beskikbaar by www.finishtime.co.za
