Toestand van parke kwel
Die vernielsugtige gedrag van parkgangers is 'n bron van kommer.
VEREENIGING. – Vir talle inwoners van die Vaaldriehoek is die agteruitgang van eens pragtige en goed instandgehoude parke ‘n steen des aanstoots.
Min mense is so passievol oor die plaaslike parke soos mnr. Mike Maxwell, ‘n lid van Drie Riviere se wykskomitee en lid van die Veldgids Vereniging van Suid-Afrika (FGASA). Maxwell bly al langer as 50 jaar in die Vaaldriehoek en kan die goeie dae onthou toe mens nog op Sondae saam met familie en vriende in Vosloopark kon kuier en vis in die Kliprivier of Vaalrivier kon vang.
Mike was die afgelope paar jaar ook by talle pogings betrokke om rommel in die park op te tel en die parkgebied te verfraai.
Wat nou egter besig is om in Vosloopark te gebeur is ‘n bron van kommer.

Maxwell het hom verlede week uitgespreek oor die “vandalistiese gedrag” van sommige parkgangers.
Volgens Mike is hy veral bekommerd oor brandstigting in die park en die vandalisering van bome.
Dan is daar ook ‘n algehele gebrek aan instandhouding waaroor hy en verskeie inwoners ontevrede is.

Volgens Mike maak sommige parkgangers vuur naby die stamme van bome. Oor ‘n tydperk hol die stamme uit en verswak dit die bome.
Die bome val dan om, waar dit dan gewoonlik vir vuurmaakhout opgekap word.
Die park het oor die afgelope paar jaar verskeie pragtige bome weens hierdie tendens verloor. “Hulle maak vuur langs die bome. Stadig maar seker brand dit deur. As die wind waai val die bome om.
Mense gee eenvoudig nie om nie,” vertel Mike.

Parkgangers wat langs die rivier kuier en hul rommel eenvoudig langs hul kuierplek strooi is ook ‘n bron van frustrasie.
“Mense gee eenvoudig nie meer om nie. Hulle sit en drink hulle bier, dan gooi hulle eenvodig hulle bottels en kitskoshouers by die venster uit,” sê Mike.
Hy betreur ook die algehele gebrek aan instandhouding by die park.
“Vroeër jare was hier pale en kettings wat gesorg het dat motors net op aangewese plekke stop. Sonder die kettings ry die mense oral en dit lei tot gronderosie,” sê Mike.
“Die gras was altyd netjies gesny. Nou sny niemand meer die gras nie. Die stormdreine is ook baie lank gelede skoongemaak,” vertel hy.

