Local newsNewsNews

Beeste vrek weens rommelprobleem

Die beeste eet die rommel wat in die weivelde beland.

*Die storie het eerste in die gedrukte weergawe van Vaalweekblad verskyn. Kry ons koerant op Vrydae vir die jongste nuus.

WALKERVILLE. – ‘n Man wat op ‘n kleinhoewe naby die Savanna City ontwikkeling in Midvaal boer sê hy het in die afgelope twee jaar verskeie beeste verloor weens rommel wat in sy weivelde opeindig.

Volgens Louis Klopfer, die boer, beland plastiekbottels, sakke en ander rommel wat van ‘n nabygeleë vullisverwyderingsdrom (“skip”) af waai in sy weivelde.

Die diere kan nie tussen rommel en weiding onderskei nie, wat tot gevolg het dat die rommel deur die beeste geëet word.

Die diere se spysverteringskanale raak verstop en dit lei tot allerhande komplikasies.

In die jongste voorval verlede maand moes ‘n koei wat sowat sewe maande dragtig is volgens Klopfer geopereer word nadat sy rommel verorber en daarna komplikasies ontwikkel het.

Rommel onder ‘n boom op Louis Klopfer se plaas.

Volgens Klopfer kon die koei en haar kalf gelukkig gered word, maar nou sit hy met ‘n reuse veeartsrekening wat hy self moet betaal.

Klopfer het glo al verliese van so veel as R200 000 gelei.

Hy sê hy het al met amptenare van die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit oor die probleem vergader.

Ongelukkig duur die probleem voort.

Volgens die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit se burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsdienste, Thembi Modiba, is die munisipaliteit besig om die saak aan te spreek.

“Ons kommunikeer voortdurend met die boer om ‘n oplossing te vind. Ons het begrip vir die boer se situasie en erken die beduidende impak wat hierdie verliese op hulle bestaan het,” sê Modiba.

Volgens Modiba is die boer se eiendom langsaan die Savanna City ontwikkeling.

“Daar is ‘n vullishouer wat daar geplaas is om te help met die hantering van onwettige storting, soos versoek deur gemeenskapslede. In plaas daarvan om in die asblik te stort, stort van ons gemeenskapslede ongelukkig op die boer se plaas,” sê sy.

Volgens Modiba verwyder die munisipaliteit weekliks daar rommel.

“Ons maak ‘n punt daarvan om rommel wat onwettige gestort is weekliks op te ruim. Ons hou ook opvoedkundige programme wat inwoners aanspoor om nie in die gebied te stort nie,” sê Modiba.

Volgens Modiba is daar planne in die pyplyn om ‘n munisipale oordragstasie in Savanna City te bou wat hierdie kwessie permanent sal oplos.

“Die projek sal oor drie finansiële termyne strek. Ons het reeds omgewingsimpakstudies gedoen. Ons het reeds ‘n heining opgerig. Ons moet egter steeds opritte, weegbrûe, werkskantore en sypaadjies bou vir voldoeningsdoeleindes,” sê Modiba.

Volgens Modiba sal die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit voortgaan om skoonmaakpogings te versnel met inagneming van die beskikbare begroting, om die impak op die boer en omliggende inwoners te minimaliseer.

‘n Dragtige bees wat geopereer moes word nadat sy rommel gevreet het.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button