Goeie nuus: Kry só baie rande vir jou tande
Hou Ster en Vaalweekblad dop vir meer inligting hieroor
OPDATERING:
Dis 1 April… die enigste dag van die jaar wanneer Vaalweekblad ons lesers se siele probeer uittrek met ‘n onware, verspotte “nuusberig”. Vroeër vandag se tandekoop-storie was vanjaar se Gekkedagberig: Ons het natuurlik gejok soos… TANDETREKKERS! Moenie ‘n enkele woord in die berig glo nie want dit is alles uit ons duime gesuig! :-)
Die meeste Vaalweekblad-lesers het dadelik lont geruik en soos gewoonlik skreeusnaakse kommentaar gelewer. Hier is ‘n paar van die kommentaar wat ontvang is:
Rachel Cronjé: Nou gaan jy sien hoe word ons tande uit ons mond gesteel!
Elna van Rensburg: Klink na ‘n melkkultuur storie…
Vir Suid-Afrikaners wat die geldknyp voel, is daar hierdie maand groot verligting – mits jy jou ou getrekte tande bewaar het.
‘n Oud-inwoner van Sasolburg wat nou in Australië woon, mnr. Loftie Niemand, het die alleenreg bekom om menslike tande in Suid-Afrika aan te koop vir uitvoer na Oosterse lande. Sy projek sal later die maand in die Vaaldriehoek afskop, waar hy reeds “pop-up shops” (tydelike kleinhandelruimtes) in groot winkelsentra bespreek het sodat inwoners hul tande vir kontant kan kom inruil.
“Min mense weet dat menslike tande nog meer gesog as renosterhoring in sekere Oosterse lande is. Dit word in tradisionele medisynes gebruik om enigiets van babelaas en jig tot probleme met seksuele prestasie te behandel,” sê hy.
Mnr. Niemand was ‘n chemiese ingenieur by ‘n groot Sasolburgse nywerheid tot hy 8 jaar terug afgelê is en na Australië geëmigreer het. Hy werk nou as onafhanklike konsultant vir laboratoria in Australië en die Ooste.
“Hoewel die verkoop van menslike organe en beendere steeds onwettig is in Suid-Afrika, is die land se wetgewing verlede jaar verander, wat die verkoop van menslike tande nou wettig maak – een van min lande wat dié soort handel toelaat. Ek het ‘n gaping in die mark gesien weens die groot behoefte aan menslike tande vir medisinale gebruik in Oosterse lande. Hoewel duisende tande daagliks in die Ooste getrek word, is dit skaars want weens hul geloofsoortuigings sal Oosterlinge hul tande liewer begrawe as verkoop,” verduidelik Niemand.
Sy plan om menslike tande in Suid-Afrika aan te koop, is goeie nuus vir die land se renosters: Omdat renosterjag wêreldwyd gekriminaliseer word en dit uiters duur en selfs lewensgevaarlik is, verkies Oosterse medisynevervaardigers toenemend om eerder van wettig-gekoopte menslike tande gebruik te maak. En hulle is nie suinig om te betaal nie: Hulle is bereid om tot $140 (Amerikaanse dollar) per gram vir ‘n getrekte menslike tand op te dok. In Rand-waarde beteken dit R2 644 per gram – dubbel die huidige goudprys. As in gedagte gehou word dat ‘n volwasse menslike tand maklik 2.5 gram kan weeg, beteken dit dat jy sowat R6 000 per tand kan verdien. Hoewel vlekkelose, gesonde tande die hoogste prys gaan kry, is gestopte tande en selfs dié met tandbederf ook welkom.
‘n Hoëtegnologie elektroniese skaal sal gebruik word om elke tand te weeg, waarvolgens verkopers onmiddellik in harde kontant of per EFT vergoed sal word. Maar wees gewaarsku: Moenie probeer kul en tande van diere soos honde, skape of beeste inbring nie aangesien die skaal die presiese oorsprong, ouderdom en samestelling van tande in die fynste besonderhede kan bepaal. SLEGS menslike tande sal gekoop word – geen krone of valstande nie.
Begin soek dus na jou of jou kinders se ou getrekte tande wat jy iewers in jou kaste bewaar. Al wat jy dan moet doen is om Vaalweekblad en Ster dop te hou vir die advertensies wat sal aandui waar en wanneer jy jou tande kan inbring. Onthou ook om jou ID-kaart of -boekie saam te bring.
* ‘n Plaaslike tandarts waarsku dat mense nie hul gesonde tande moet laat trek om van die aanbod gebruik te maak nie. “Onthou, hierdie is ‘n korttermyn oplossing vir jou geldprobleme. Jy gaan baie groter probleme hê as jy weens getrekte tande nie meer behoorlik kan kou of praat nie,” is sy raad.
Mnr. Niemand beaam dit. Om te voorkom dat mense hulself benadeel om van die aanbod gebruik te kan maak, sal slegs tande wat meer as twee maande terug getrek is, aangekoop word.
