Local newsNewsNews

Melissa sing uit haar hart

Sy is een van die Vaal se kunstenaars wat eersdaags by Afrikaans is Sterk gaan optree. Maak nader kennis met Melissa van Jaarsveld

VANDERBIJLPARK. – Melissa van Jaarsveld se stem bekoor. Haar jongste enkelsnit, Lief vir jou, dra ‘n sterk boodskap van hoop en dat jy jouself moet wees.

“Ek het die lied saam met Vincent Gordon geskryf en dra dit onder andere op aan Rozaan Steyn en al die MS-lyers.

“Hulle is vir my ‘n groot inspirasie,” verduidelik sy. Melissa kan net deeltyds op haar sang fokus, aangesien sy ook ‘n voltydse werk het en na haar 12-jarige dogter, Ashanté omsien.

“Ashanté het ‘n leergestremdheid en ontwikkelingsagterstand, maar sy vaar nou baie goed by Wings for Life skool vir kinders met spesiale behoeftes.”

Dis duidelik dat Melissa baie lief en trots is op haar meisiekind. Alhoewel sy nie al haar tyd aan musiek kan spandeer nie, was sy nog altyd baie lief daarvoor.

“Daar was altyd musiek in ons huis. My pa het baie langspeelplate, kassette en CD’s gehad.

“Kleintyd was Sonbrilletjies van Al Debbo een van my gunsteling liedjies,” lag sy.

Op hoërskool het sy na almal van Jennifer Rush tot by Belinda Carlisle, Bles Bridges en Anneli van Rooyen geluister en net haar kamerdeur toegemaak as haar ma gekla het haar musiek is te hard.

Melissa het in Vanderbijlpark en Vereeniging grootgeword, waar sy in Laerskool Kollegepark en die HS Driehoek was.

“In die laerskool het ek dit so geniet as ons gewyde sang periodes gehad het. Ek het ook altyd die gesange in die bad gesing.

“Dan moes my ma my later aansê om klaar te maak, want my vingers was al verrimpel van die water, maar sing moes ek sing.”

Naas skoolkonserte het sy nooit regtig gedink dat sy mooi kan sing nie. Dit was totdat ‘n vriendin vir haar ‘n opname geskenkbewys vir haar verjaardag gegee het. K

ort daarna is haar eerste enkelsnit, My Sonskyn vrygestel. In 2023 was Melissa genomineer vir die beste nuweling van die jaar by die Melomaan Toekennings.

Sy sien tans uit daarna om saam met ‘n hele groep onafhanklike kunstenaars by Staan Sterk in Afrikaans op te tree.

Die vertoning vind 20 April by die AfriForum Teater in Pretoria plaas. “Ek is dankbaar vir die geleentheid en is baie opgewonde. Dit gaan beslis die hoogtepunt van my loopbaan sover wees.”

Luister gerus na Melissa se musiek op YouTube @Melissa van Jaarsveld.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button