Bekende oud-Valie sterf in fratsongeluk in Rustenburg
Gewilde oudleerling van Laerskool Emfulenipark verloor sy lewe in motorfietsongeluk
VANDERBIJLPARK. – ‘n Bekende oudleerling van die Laerskool Emfulenipark, Jaden Chegwidden (17), het op 5 Maart in Rustenburg gesterf nadat hy beheer oor sy motorfiets verloor en ‘n boom getref het.
Volgens sy ma, mev. Tanya van der Walt, was hy met ‘n Kawasaki 450 Scrambler op pad na ‘n winkeltjie hoër op in hul straat om koeldrank te koop toe die fratsongeluk gebeur het. Hy is op die toneel dood verklaar.
Jaden het van jongs af aan avontuursport deelgeneem en het sedert sy vyfde jaar al motorfiets gery. In 2013, terwyl die gesin nog in Vanderbijlpark gewoon het, was hy op Vaalweekblad se voorblad nadat hy as 7-jarige sy eerste koedoebul met ‘n kruisboog doodgeskiet het. Na sy laerskooldae het hy saam met sy gesin uit die Vaaldriehoek verhuis en was ten tyde van sy dood ‘n leerling van die Hoërskool Rustenburg.
“Hy was ‘n lewenslustige soort mens wat elke dag ten volle geleef het. Hy was mal oor gholf, hengel, jag, motorfietsry en kitaarspeel en het altyd sy uiterste bes in alles gegee. Mens het hom nooit sonder ‘n glimlag gesien nie. Hy was ‘n ekstrovert en ‘n regte terggees met ‘n onbeskryflike groot liefde vir mense,” sê sy ma. Tussen sy ander aktiwiteite deur het hy ook by die familie se jag-onderneming, TVC Hunting Safari, gehelp met spoorsnywerk en om kliënte na die jagveld uit te neem.
“Hy sou op 12 April 18 word en het beplan om na skool in elektriese ingenieurswese te studeer en te gaan boer. Hy was ‘n ware boerseun met ‘n groot liefde vir die veld en die buitelewe,” sê Tanya.
“Hy het reeds op die ouderdom van 14 begin om voerbakke te bou en dit aan boere in ons omgewing verkoop. Hy het dit so mooi en met soveel passie gedoen en ‘n lekker sakgeldjie daarmee verdien.”
Jaden word buiten sy ma ook oorleef deur sy pa, die bekende jagter Vernon Chegwidden, sy stiefma Michelle Chegwidden, stiefpa Christo van der Walt, sussie Kesia-Lee en boeties Nathan, Noah, Sion en Divan. Sy grootouers, Herman en Annelie Woolley van SE2, Vanderbijlpark, steier ook nog onder die verlies van hul geliefde kleinseun.
Jaden se groot vriendekring het op 8 Maart ‘n “rev-dag” met hul karre en bakkies gehou by die boom waar hy verongeluk het, en blommekranse neergesit om hulde aan dié gewilde jongman te bewys. “Dit was baie spesiaal vir ons. Ek besef nou eers hoeveel mense se harte hy aangeraak het. Hy was ‘n staatmaker en steunpilaar vir baie en het altyd ‘n oor gehad om te luister,” sê Tanya. Sy gedenkdiens is op 12 Maart in die AGS Grasdakgemeente in Rustenburg gehou.







