Midvaal brei sy voertuigvloot uit vir nóg beter diens
Só word Midvaal nog beter gemaak as wat dit reeds is, sê Raadsheer Pretorius

Deur Phil C. Pretorius, Raadsheer en Hoofsweep, Midvaal Munisipaliteit:
Midvaal Plaaslike Munisipaliteit het die afgelope drie jaar aansienlike opgradering tot hul vloot laat doen.
In die vorige termyn is meer gekonsentreer op besparing en herstel van voertuie deur die vorige bestuur. Dit het egter duidelik geword dat die inhuur van voertuie en konstante herstel van opgebruikte voertuie in ‘n ideologie van rompslomp en malle regeringsbeleide (red tape) dit onmoontlik maak om die dienste aan ons inwoners te verskaf wat hulle verdien. Vir daardie rede het burgemeester Peter Teixeira op ‘n veldtog gegaan om Midvaal op te gradeer tot die BESTE MUNISPALITEIT in Suid-Afrika (RatingsAfrika), ‘n titel wat ons met trots dra vir die afgelope twee jaar.
Op 8 Maart vanjaar het Midvaal ontvangs geneem van die nuwe Marce Major Pumper-brandweerwa wat die vloot nou op 13 te staan bring, met sewe ligte diensvoertuie wat hulle bystaan. Op 25 Mei vanaf 08:00 sal die Midvaal brandweer ook deelneem aan die jaarlikse Fit to Fight Fire Competition and Fire Expo by die Midvaal Sport Centre in Meyerton.
In Februarie het ons ook ons nuwe riool-vakuum straalspuitvoertuig ontvang. Hierdie voertuig is plaaslik, spesiaal vir Midvaal gebou nadat talle pogings om soortgelyke voertuie te huur, onsuksesvol was. Die voertuig word gebruik om verstopte dreine en pype oop te maak en is hoogs gespesialiseerd en onbekostigbaar duur om in te huur, as jy dit kan opspoor.
Ander voertuie wat ook deur Midvaal in ontvangs geneem is, is onder andere ‘n nuwe vulliskompakteerder en 10 trekkers met snyers (slashers) ter waarde van R3.7 miljoen om die munisipaliteit se afhanklikheid van buitekontrakteurs te verlig.
Twee addisionele kersieplukvoertuie (cherrypickers) van by die R2 miljoen om straatligte te herstel, is aangekoop asook twee Ford Raptors om te help met bywet-beheer en die bystand van die Gemeenskapspolisieforum (GPF’s) se misdaadbekamping in Midvaal.
Al is die begroting wat deur die Gauteng Provinsie aan Midvaal toegeken word beperk, gebruik hulle die belastingbetaler se geld om dienste te lewer daar waar hulle dit die nodigste het. Dit is nou kritiek belangrik dat die kiesers sal sien wat die provinsiale regering nie vir Midvaal doen nie en dan reg sal kies in die opkomende verkiesing om Midvaal steeds beter te maak as wat dit reeds is.
Trotse Midvaal-groete, Phil.
Web: www.midvaal.gov.za
Facebook: Midvaal Local Municipality en Midvaal News Network
Tel: 0861 643 8225
MyMidvaal App

Foto’s onder: Van die nuwe voertuie in Midvaal se vloot. Nou kry inwoners van dié DA-beheerde munisipaliteit NOG beter diens!




