Oom Philly doen sy deel met wol
Oom Philly (86) se hande staan vir niks verkeerd nie en onder sy vingers het daar al amper 'n dosyn komberse vorm aangeneem.
VANDERBIJLPARK. – Hy is gewoonlik die enigste haan onder die henne met ‘n hekelpen in die hand, maar daaraan steur Philly du Plooy (86) hom glad nie.
Hy hekel en hy hou daarvan. “My ma het my op skool al geleer hoe om die kettingstekies te maak, maar daarna het die kuns by my verlore geraak,” beduie hy.

Dit was totdat hy en sy vrou, Ida die karavaan vir drie maande gehak het om die wintertyd in warmer weer te spandeer.
“So met die aankomslag by die oord het ‘n man oorgestap en gevra wat gaan ek doen om besig te bly? Ek wou nog uitwei oor visvang en so, maar toe sê die man nee, hier sit die manne nie ledig nie, almal brei, hekel of vleg swepe.”
So gesê, so gedaan. Oom Philly het eers geleer om plastiese sakkies aanmekaar te hekel om matjies te vorm, maar nadat die karavaanvloer gemat is, het hy wol gaan koop en ‘n kombers vir sy oudste kleindogter begin.

Hy het nog nie weer opgehou nie. Van sy vier kinders, ses kleinkinders en twee agterkleinkinders moet nog net sy oudste seun ‘n dubbelbedkombers kry. Elke kombers vat hom ongeveer drie maande.
“Ek hekel in die aande voor die televisie. “Gedurende die dag het ek ander dinge wat my besig hou.”
Hy is tans besig met ‘n hoektot-hoek gehekelde kombers van al die bolle wol wat van Ida se breiwerk oorgebly het.
“Ek verkies om te brei, laat hy maar die hekelwerk doen,” lag sy.
“Ek het darem gehelp brei aan die groot landsvlag van 2019,” onthou Philly. Hy was onlangs ook betrokke by die wêreldrekord van die langste gehekelde serp.
“Ek het 20 self gehekel en 150 vasgewerk,” vertel hy trots.
Altyd lus vir ‘n nuwe uitdaging, wil hy nou leer hoe om die Tunisiese hekelkuns met die enkele lang naald onder die knie te kry.
