AfriForum: Drinkwater ‘skoon’ en ‘veilig’
Die waarskuwing wat die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit uitgestuur het oor kontaminasie van die drinkwater is glo nie van toepassing op Vanderbijlpark self nie, maar wel op Beverly Hills, Sonderwater, Graceland, Palm Springs, Lakeside, Zone 3, Zone 6, Zone 7, Zone 8, Small Farms, Evaton, Evaton North en Evaton West.
VANDERBIJLPARK. – AfriForum sê Vanderbijlpark se drinkwater is “skoon en veilig”.
Dit volg nadat die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit inwoners van Beverly Hills, Sonderwater, Graceland, Palm Springs, Lakeside, Zone 3, Zone 6, Zone 7, Zone 8, Small Farms, Evaton, Evaton North en Evaton West die afgelope Paasnaweek in kennis gestel het dat die drinkwater in dié gebiede moontlik gekontamineer is weens ‘n riool-afvoerlyn wat glo inmekaargesak het.
AfriForum sê egter dat die burgerregteorganisasie Rand Water se water gereeld met die hulp van onafhanklike laborotoriums toets en dat Vanderbijlpark se water skoon en veilig is.
“Die water is skoon en veilig. Die waarskuwing oor die besoedeling is nie op inwoners van Vanderbijlpark self van toepassing nie,” het AfriForum in ‘n verklaring op Facebook gesê.
“ELM se gebrek aan verantwoordelike waterbestuur is die oorsaak van hierdie gemors. Riool word toegelaat om vrylik in ons uiters waardevolle waterbronne in te vloei omdat pompstasies nie in stand gehou word nie. AfriForum veroordeel ELM se totale gebrek aan aanspreeklikheid ten sterkste,” het die burgerregtegroep in ‘n verklaring gesê.
AfriForum het ‘n beroep op inwoners gedoen om nie gerugte, vals of ongeverifieerde inligting te versprei nie.
