Vullis net elke 14 dae in Vanderbijlpark verwyder
Die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit se dienslewering het só verval dat vullisverwydering in Vanderbijlpark tans net elke tweede week sal geskied.
Raadslid Piet Smith van die VF Plus in Emfuleni het verduidelik dat Emfuleni tans net drie vullisverwyderingstrokke beskikbaar het om ʼn gebied van 966km2 te dien.
In werklikjheid word 21 trokke benodig om die huishoudelike afval weekliks te verwyder.
“Die 18 onbeskikbare vullisverwydering trokke is of stukkend of kontrakteurs het herstelwerk gestaak weens onbetaalde rekeninge.
“Inwoners van Vanderbijlpark moet 30km ver buite die dorp ry om rommel by ʼn gemagtigde stortingsterrein af te laai.
“Mense is in die verlede daar aangeval wat dit gevaarlik maak om die terrein te besoek,” sê rdl. Smith.
Om sake te vererger het belastingbetalers in woongebiede met ʼn invorderingskoers van 100%, ook by die Emfuleni-belastingbetalersvereniging aangesluit en weerhou hul dienstegeld.
“Die VF Plus kan nie belastingbetalers kwalik neem vir die drastiese stap nie, maar dit verarm die munisipaliteit verder,” verduidelik rdl. Smith.
Baie inwoners word reeds ‘n geruime tyd genoodsaak om van klein ondernemings gebruik te maak om vullis te verwyder. Meer sal waarskynlik nou hierdie roete moet volg.
“Vullis word ook langs paaie en oop stukke veld gestort waarna dit aan die brand gesteek word. Dit belemmer die sig en hou ʼn gevaar vir motoriste in,” sê rdl. Smith.
“Die VF Plus het die Emfuleni-munisipaliteit gewaarsku om die wanbestuur te stop. Die gebrek aan vullisverwydering veroorsaak ʼn gesondheidsrisiko vir inwoners en lei tot ʼn infestasie van rotte en kokkerotte.
“Dit is tyd om van die ANC in Gauteng ontslae te raak in die komende verkiesing en te vervang met ʼn koalisieregering waarvan die VF Plus deel is,” sluit rdl. Smith af.
