Ek sê maar net – Hoop in beweging
RUBRIEK. - Van vroeg opstaan, ver stap en hoed afhaal vir mense veel dapperder as ek.
RUBRIEK. – Saterdag moes ek donker opstaan. Ek is nie ‘n oggendmens nie. Maar, as ek op diens is, en die marathon begin 06:00, dan probeer ek my bes.
Moes 05:45 by die wegspring wees om my mediakaartjie te kry. My tyd was (soos gewoonlik) bietjie uit en 05:45 ry ek eers oor die Vaalrivier.
Die grote DP de Villiers-stadion se helder ligte wink. Ver van die hoofhek besef ek al, parkering naby gaan ek nie kry nie.
Draai maar gedwee agter ander motors die veld in. Stop ver, baie ver. Voel vir my ek doen my eie marathon net om by die ingang te kom.
Daar steek ek vas. Ek kan sien die marathonatlete hardloop al. Dis nog net die 5 km-pretstap se mense wat rondmaal.
‘n Mede-fotograaf in verdwaaldheid peil op my af. “Weet ek waar is Elsabe en die wegspringpunt?”
Ek skud kop. Hy soek verder. Ek besluit om te skakel. Elsabe laat weet sy is by die wegspringpunt.
Ek volg die 5 km stappers. Maar halfpad draai hul om, hul spring nie op dieselfde plek weg as die ander nie. Ek beur voort.
Die medefotograaf haal my in. Hy het ook gebel. “She has a navy blue shirt on,” het hy darem meer info. Ons kyk rond. Hy bel weer. Sy is by die 5 km wegspring.
Ons loop al die pad terug. Kry haar uiteindelik. Sien hoe die massa wegtrek op hul 5 km tog.
Toe loop ons nog, wat vir my gevoel het soos 5 km, om binne die stadion by die eindstreep te kom.
Gelukkig was dit nie lank rondstaan voordat die vinnige 10 km atlete begin instroom het nie. Kort op hul hakke het die eerste 5 km atlete begin inkom.
Ek het my verkyk aan die oorgawe waarmee daar gehardloop is. Die vreugde oor doelwitte wat bereik is.
Geglimlag toe my MS-vriende hul verskyning maak. Trots gesien dat hul net met stapstokke geloop het en nie rolstoele of loopkarretjies nie.
Hoop in beweging. Dis al hoe ek hul kan beskryf. Nadat al die wenners hul weg oor die eindstreep gevind het, durf ek weer die groot staptog na my motor aan.
My skroefvoet kla my aan, maar ek dink aan Rozaan en haar MS-makkers wat ten spyte van die pyn, so dapper stap en ek weet die vroeg opstaan en ver stap was die moeite werd.
