Onverwagse baba verras kinderlose ouerpaar uit die bloute!
Pa Willem het hul dogtertjie self gevang en teen 17:15 het sy haar eerste skreeutjie gegee.
MEYERTON. – Gebede word soms op die mees onverwagse oomblik verhoor. Daarvan kan Caroline (29) en Willem van der Schyff (48) getuig nadat hul hartsbegeerte om ‘n baba te hê, op 1 Maart skielik vervul is. Hulle het nie geweet dat Caroline swanger was nie. Wat die verrassende blitsgeboorte nog meer besonders maak, is dat die paartjie albei aan toestande ly wat dit uiters onwaarskynlik gemaak het dat hulle ooit ‘n kind van hul eie sou kon hê.
Caroline en Willem het die betrokke dag van hul woning in Kookrus na Meyerton gestap – ‘n afstand van omtrent 3 km. Nie lank nie of Caroline het begin kla van kwaai maag- en rugpyn. In Gallowaystraat het Caroline besef sy kon nie verder nie. Willem het in die onmiddellike omgewing gaan hulp vra, maar niemand wou help nie. ‘n Begrafnisondernemer hoër op in die straat was egter dadelik bereid om te help en het Caroline huis toe geneem, al het niemand toe al geweet wat sy makeer nie.
Met die instap by haar huis het sy water teen haar bene voel afloop. Sy was onder die indruk dis haar blaas wat lek, onbewus daarvan dat dit haar vrugwater was wat gebreek het. Die pyn was teen dié tyd ondraaglik en sy het paniekerig na haar ouma, wat ook in die huis woon, geroep. Met Willem en haar ouma se hulp is sy na ‘n bed geneem, waar hulle met skok besef het daar was ‘n baba aan die kom. Willem het hul dogtertjie self gevang en teen 17:15 het sy haar eerste skreeutjie gegee.
Caroline se ma, mev. Alet Prinsloo, kon haar ore nie glo toe sy kort daarna ‘n oproep by haar werk kry en hoor sy is ‘n kleinkind ryker nie. Sy het dadelik Afri Guard in Meyerton gekontak, wat ‘n ambulans en nooddienspersoneel uitgestuur en die naelstring kom afbind het. Caroline en haar baba is na die Sebokeng-hospitaal vervoer om seker te maak albei is in ‘n goeie toestand.
Mev. Prinsloo sê Caroline het as baba probleme met haar uitskeiding gehad en was maar drie dae oud toe sy ‘n kolostomiesakkie moes kry. Op 9 maande moes sy weer ‘n groot operasie kry en op die ouderdom van 2 jaar is ‘n kateter onder haar naeltjie ingeplaas.
“Die dokters het al van haar kinderdae af gesê Caroline sou nooit kinders kon hê nie. Willem het ook as kind ‘n besering opgedoen wat die kanse baie klein gemaak het dat hy ‘n pa sou kon word. Ondanks dit het hulle ‘n baba bly begeer. Caroline het gereeld gebedsversoeke by die kerk laat plaas in die hoop om swanger te raak. En toe kom die wonderwerk op 1 Maart. Sy het geen teken gewys dat sy swanger was nie en het nog gereeld gestap en fietsgery,” sê mev. Prinsloo.
Caroline en Willem sê hulle is dankbaar die Here het hulle gekies om te bewys dat wonderwerke nog gebeur. Hulle het besluit om hul dogtertjie Amore Amanda te noem omdat dié name onderskeidelik “Liefde” en “Geskenk van God” beteken.
* Vriende en familie het intussen saamgespan om die nodigste kleertjies en toebehore vir die baba aan te skaf omdat die paartjie dit nie breed het nie. Net ‘n klere- of laaikas word nog benodig. Enigiemand wat dalk een kan skenk, kan mev. Prinsloo kontak by 073 577 6045 of vir Willem by 064 315 2207.





Foto: Pa Willem met sy dogtertjie, pas na haar geboorte. Nooddienspersoneel van Afri Guard het later kom hand bysit en die naelstring afgebind. Ma Caroline en die kleinding is daarna na die Sebokeng-hospitaal vervoer.


Almal in die omgewing wil die klein “wonderbaba” graag vashou en met haar speel.

