Steenkoolmyne: Inwoners kan hul sê kom sê
Glubay Coal wil twee steenkoolmyne tussen Vereeniging en Meyerton tot stand bring.
VEREENIGING. – Die konsep omgewingsimpakverslae oor twee beoogde steenkoolmyne tussen Vereeniging en Meyerton sal in April aan belangstellende en geaffekteerde partye voorgelê word.
Die eerste van die voorleggings sal Saterdag, 6 April tussen 09:00 en 17:00 by Arcon Park Primary School in Vereeniging gehou word.
Alle belangstellendes word uitgenooi om die geleentheid by te woon.
Die doel van die voorleggings is om inligting oor die beoogde myne en die bevindings van ‘n omgewingsimpakverslag met die publiek te deel.
Daar sal ook geleentheid wees om vrae te vra, kwelpunte te opper en voorstelle rondom die projek te maak.
Dit volg nadat Glubay Coal (Edms.) Bpk. ‘n affiliaat van Canyon Resources, vroeër ‘n aansoek by die Departement van Minerale Hulpbronne ingedien het om steenkool tussen Meyerton en Vereeniging te myn.
Die maatskappy wil twee oopgroefmyne – die Vlakfonteinmyn en die Springfield-myn – op die plase Damfontein, Kookfontein, Vlakfontein, Waldrif en Smaldeel vestig.
Die area sluit hoofsaaklik die gebied tussen die R59 en R82 (Ou Johannesburgweg), tussen Vereeniging en Meyerton in, maar strek ook verder wes as die R82.
Volgens Glubay Coal kan die projek bykans 550 werksgeleenthede skep – 300 by die groter Springfieldmyn en 250 by die kleiner Vlakfontein-myn.
Die lewensduur van die beoogde Springfield-myn is sowat 30 jaar en die van die beoogde Vlakfonteinmyn sowat 26 jaar.
Heelwat inwoners het tydens ‘n vorige publieke deelname vergadering oor die myn wat Dinsdag, 6 Junie 2023 by Arcon Park Primary School plaasgevind het, hul teenkanting teen die beoogde ontwikkeling uitgespreek.
Inwoners van omliggende gebiede wat Arconpark, Waldrif, Falcon Ridge, Springcol, Harmoniesrus, Houtkop, Unitaspark, Vaalkop, Van der Merweskroon, Rust-ter-Vaal en Roshnee insluit – is bekommerd oor die myn se nabyheid aan wonings, sowel as die impak wat dit op omliggende gemeenskap sal hê.
Inwoners van landelike gebiede het ook hul kommer uitgespreek oor moontlike besoedeling van ondergrondse waterbronne.
Die verlies van die waarde van landbougrond, negatiewe uitwerking op grond en landkapasiteit, die sosio-ekonomiese impak, die verplasing van besighede, die impak op biodiversiteit en sensitiewe ekologiese areas in die omgewing, geraas en vibrasies, die impak op oppervlakwater en luggehalte en die geologiese impak op ‘n gebied met dolomitiese grond word ook as moontlike probleme gelys.
Die Redan Rock Art Site, ‘n sandsteenrots buite Redan met tussen 200 en 300 rotsgravures wat moontlik uit die ystertydperk dateer, is geleë op die stuk grond wat geoormerk is vir myboubedrywighede en kan platgestoot word indien die aansoek slaag.
Die gebied is in 1971 as ’n nasionale monument verklaar en word in terme van die Wet op Nasionale Erfenishulpbronne van 1999 as ’n provinsiale erfenisgebied beskou.
Die omgewingsimpakverslag sal by die volgende ope dae aan belangstellende en geaffekteerde partye voorgelê word:
* Saterdag, 6 April tussen 09:00 en 17:00 by Arcon Park Primary School (Leelaan 24, Arconpark, Vereeniging).
* Saterdag, 13 April tussen 09:00 en 17:00 by die Rothdene Gemeenskapsaal.
* Saterdag, 20 April tussen 09:00 en 17:00 by die Sicelo Gemeenskapsaal in Johan le Rouxweg, Meyertonpark, Meyerton.
