Lewensliggies se ‘pa’ het sy liefde soos ‘n boom se skadu met almal gedeel
Die Lewenslig Sentrum sal voortgaan ondanks die skielike heengaan van mnr. Fanie Blignaut
VANDERBIJLPARK. – “Vandag het jy ons verlaat. Jy sal altyd geliefd wees. Ons gaan jou mis, Paps. Jy is ‘n groot boom wat jou liefde soos skadu oor mense se lewens gedeel het. Jy is die voorbeeld van liefde. Love you till we meet again.” Só het Anton Blignaut sy pa, Fanie Blignaut, se heengaan op 25 Maart op Facebook aangekondig.
Mnr. Fanie Blignaut (80), ‘n geliefde inwoner van die Vaaldriehoek, het Maandag, 25 Maart, onverwags gesterf nadat hy kort tevore ‘n rugoperasie ondergaan het.
Wyle mnr. Blignaut en sy vrou Hikkie was die stigters van die Lewenslig Sentrum vir mense met breindgestremdhede in Carterstraat, Vanderbijlpark. Die inwoners, of Liggies soos hulle goedig genoem word, was nog altyd besonder geheg aan die egpaar en baie het “Oom Fanie” as hul tweede pa beskou.
Volgens Anton het sy pa jarelank rugprobleme gehad, wat die afgelope drie jaar vererger het. Mnr. Blignaut het Saterdag, 16 Maart, ‘n operasie van vyf ure in Pretoria ondergaan en het reeds tuis aangesterk toe hy 9 dae later skielik oorlede is.
Wyle mnr. Blignaut is op 11 Oktober 1943 op Kaalplaats buite Vanderbijlpark gebore en het aan die Hoërskool Vanderbijlpark en Transvalia skoolgegaan voordat hy sy ambag as beplanner deur die destydse Yskor gedoen het. Lewenslig het tot stand gekom toe die Blignaut-egpaar se dogter, Tinka, spesiale sorg nodig gehad het en hulle besef het dat daar nog nie so ‘n hulpsentrum in die omgewing bestaan nie. Die geliefde egpaar se versorging en opheffing van volwassenes met breingestremdhede het die afgelope dekades legendaries geword.
“Ons sal my pa onthou as ‘n eerlike, liefdevolle, betroubare, godsdienstige en vriendelike mens wat ook ondeund kon wees. Hy het ‘n mens graag met ‘n ysbondeltjie in die nek verras. Hy het graag vir ons stories uit sy grootwordjare vertel en het graag houtwerk gedoen. As stokperdjie het hy navorsing oor familiestambome gedoen,” sê Anton.
Mnr. Blignaut se jarelange vriend, die skrywer Nico Moolman, onthou hom ook met hartseer: “Vir my was hy my vriend in my donkerste uur. Veertien jaar gelede, toe ek niks gehad het nie, het hy my bygestaan sonder om iets terug te vra. As mens terugkyk na sy inisiatiewe deur die jare, die houtwerkartikels, die bemarking, die winkel, sy leiding by die kerk, besef mens ons verloor ‘n groot man maar ons wen ‘n nalatenskap wat nog groter gaan wees as die statuur van ‘n mens.”
‘n Gedenkdiens is Maandag, 1 April, by die Derdekruis-gemeente in Prinsloostraat, Vanderbijlpark gehou. Mnr. Blignaut word buiten sy vrou ook oorleef deur hul drie kinders en drie kleinkinders. Die Lewenslig Sentrum sal voortgaan en word nie beïnvloed deur die skielike heengaan van mnr. Blignaut nie, hoewel hy ongetwyfeld ‘n groot leemte in die harte van sy gesin, die personeel en inwoners sal laat.
‘n Huldeblyk aan wyle Fanie Blignaut – deur die skrywer Nico Moolman:
Ek het Fanie al van ons Yskordae af geken… altyd behulpsaam, vriendelik, betyds, altyd toegeeflik tot sy kollegas, maar streng met dié wat kanse gevat het. Hy het baie empatie gehad met almal wat saam met hom gewerk het. Ek het hom ook so geken by Liggies (Lewenslig Sentrum), veral die afgelope 14 jaar wat ek by Liggies betrokke was. Hy was altyd soos ‘n liefdevolle vader van die Liggies. Die Liggies het nou beurtkrag nodig terwyl Oom Fanie nie daar is nie. Sy nagedagtenis sal die generator wees wat die plek aan die gang gaan hou. Hy gaan sorg dat die lig altyd gaan skyn.
Ek is so erg oor die nalatenskap van Oom Fanie – dit gaan daar wees, die Liggies sal aangaan, tannie Hikkie sal aangaan. Ek dink aan die kinders en as ek kyk na die sukses van hulle Liggie-seuns, weet ek hy het die regte leiding aan hulle gegee.
Vir my was Fanie my vriend in my donkerste uur – 14 jaar terug in Vanderbijlpark, toe ek nie eers ‘n motor gehad het nie, het hy my bygestaan… my gevat waar ek moes wees sonder om iets terug te vra. Ek sien hom nog voor my – die inisiatiewe wat hy geneem het om houtwerkgoed te maak, die bemarking, die winkel, sy leiding by die kerk… Al wat ek kan sê: Ons verloor ‘n groot man maar ons wen ‘n nalatenskap wat nog groter gaan wees as die statuur van ‘n mens.
Hy het vir die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika (GGSA) al die begrafnisbriewe bymekaargesit en op rekord gesit – ‘n enorme taak.
Hy het gehelp om sy ma Ouma Lenie by hom en Hikkie in die huis op te pas tot met haar dood verlede jaar. Hy het altyd ‘n goeie woord gehad vir ander. Iemand wat so vir sy ouers, sy kinders en vriende omgee is ‘n engel en nou kan hy net ‘n engel bly daar waar ons hom weer eendag gaan ontmoet…
Dankie dat ek ‘n huldeblyk kon oordra oor so ‘n groot mens.


