Stadig maar seker gaan dit beter met AJ
“Ek moes drastiese veranderinge in my lewe aanbring. Oefen soos voorheen in die gimnasium is nie nou moontlik nie.”
Dit gaan stadig maar seker beter met die 35-jarige AJ van der Mescht na sy hartoperasie. Daar lê egter nog ‘n lang pad na herstel voor.
“Wat my baie vang is die feit dat ek nie soos voorheen lekker met my seuntjie kan speel nie. Ek word vinnig uitasem en mag nie te veel stremming op my hart plaas nie,” vertel AJ.

AJ het in Vanderbijlpark grootgeword en in 2007 aan die HS Transvalia matrikuleer. Hy woon tans in Pretoria om nader aan sy seuntjie uit ‘n vorige verhouding te kan wees.
AJ se lewe het op 13 Februarie in ‘n oogwink verander toe hy ‘n massiewe hartaanval gehad het.
Vir ‘n jong man wat nog altyd in sport uitgeblink het en ‘n persoonlike afrigter van beroep is, was hartprobleme die laaste waaraan hy gedink het.
Om daarna te moes hoor hy het oorerflike hoë cholesterol, was nog ‘n ontnugtering.
Die hoë cholesterol het veroorsaak dat vier are in sy hart vernou het, wat tot die hartaanval gelei het. Omdat AJ nog jonk is, het die dokters aanbeveel dat daar vir eers net ‘n stent in een van sy hart-are geplaas word.

“Ek eet gesond, maar moet daagliks meer as agt soorte pille drink. Oor die algemeen voel ek positief oor die toekoms en is oneindig dankbaar vir die tweede kans wat ek in die lewe gekry het,” sê hy.
Die negatiewe deel is natuurlik die mediese rekeninge wat ophoop. Om die rede het hy besluit om ‘n Back a Buddy rekening te skep, want sonder hulp gaan hy nie al die koste kan dek nie.
“Ek het uit die hele ondervinding geleer dat dit baie belangrik is om ten minste aan ‘n hospitaalplan te behoort en dat mens jou cholesterol moet laat toets, veral as ander familelede hoë cholesterol het,” sê AJ.
Indien daar iemand is wat AJ finansieel kan help, kan dit in sy Back a Buddy Fonds inbetaal word.
Klink net op die BackaBuddy logo hieronder. Enige bydrae sal opreg waardeer word.

