Local newsNewsNews

KYK: Mynbouplanne met hewige teenstand begroet

Inwoners soek nie 'n myn op hul voorstoep nie.

VEREENIGING. – Planne vir twee oopgroef steenkoolmyne is weer met hewige teenstand begroet tydens ‘n opedag Saterdag (6 April) by die Arcon Park Primêre Skool.

Glubay Coal (Edms.) Bpk. ‘n affiliaat van Canyon Resources, wil steenkool tussen Meyerton en Vereeniging myn en het reeds ‘n aansoek by die Departement van Minerale Hulpbronne ingedien vir die oprigting van twee steenkoolmyne – die groter Springfield-myn en die kleiner Vlakfontein-myn.

Die aansoek is reeds in ‘n gevoerderde proses en die afgelope naweek is die voorlopige omgewingsimpakverslag aan inwoners bekend gemaak.

Die aansoek het tot dusvêr ‘n negatiewe reaksie ontlok vanweë die myn sy nabyheid aan gevestigde woonbuurte soos Arconpark, Waldrif, Falcon Ridge, Springcol, Harmoniesrus, Houtkop-kleinhoewes, Unitaspark, Vaalkop, Van der Merweskroon, Rust-ter-Vaal en Roshnee, sowel as landbougrond.

Besoekers aan die opedag, waartydens inligting rakende die voorlopige omgewingsimpakverslag bekend gemaak is, is in kleiner groepe opgedeel om die soort fiaskos wat tydens vorige vergaderings plaasgevind het te voorkom.

Dinge het egter weer handuit geruk toe ‘n groot groep inwoners op dieselfde tyd by die skool opgedaag het en aangedring het dat hulle gelyktydig toegespreek word.

Op ‘n video wat tydens Saterdag se opedag geneem is en op sosiale media gedeel is kan mens duidelik sien met watter teenstand omgewingskonsultante begroet is.

Percy Mestry gesels met Ursula Pape, ‘n konsultant. Mestry sê die invloedryke gemeenskap van Roshnee is ongelukkig omdat daar nie ook ‘n opedag vir hulle gereël is nie. Foto: Christiaan Cloete

Ons soek dit nie hier nie! Daar is klomp oumense hier! Al daai stof! Ons het nie eers meer ‘n behoorlike hospitaal hier nie! Al ons dokters beweeg uit die gebied uit! Nou kom julle en dwing julle gemors op ons af! Ons soek julle nie!” skreeu ‘n man op die video.

Johan Maré, ‘n omgewingskonsultant van Menco, het aan Vaalweekblad verduidelik dat hoewel die myn na verwagting ‘n groot impak op die omliggende omgewing kan hê, baie van die negatiewe impakte versag kan word deur die implementering van maatreëls.

Vervoerbande kan byvoorbeeld gebruik word wat die impak op verkeer kan verlaag. ‘n Watersuieweringsaanleg kan gebruik word om mynwater te suiwer. Daar is ook ‘n erfenisplan opgestel wat die bewaring van die Redan-rotsunsplek sal verseker.

Die omgewingsimpakverslag sal by die volgende ope dae in April aan belangstellende en geaffekteerde partye voorgelê word:

* Saterdag, 13 April tussen 09:00 en 17:00 by die Rothdene Gemeenskapsaal.

* Saterdag, 20 April tussen 09:00 en 17:00 by die Sicelo Gemeenskapsaal in Johan le Rouxweg, Meyertonpark, Meyerton.

Hanjo Fourie, ‘n omgewingskonsultant, beantwoord ‘n klein groep inwoners se vrae tydens die opedag. Inwoners is in kleinder groepe opgedeel om ‘n fiasko (soos met vorige vergaderings) te voorkom. Foto: Christiaan Cloete

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button