Local newsNewsNews

Metz-broers het ‘soos orkes’ saam opgetree

Die staat sê die broers en hul ma het op die aand wat Benjamin Lotz (52) vermoor is ‘soos ‘n orkes’ opgetree.

*Die storie het eerste in die gedrukte weergawe van Vaalweekblad (Vrydag 5 April) verskyn. Kry ons koerant op Vrydae vir die jongste nuusdekking oor die saak.

*WAARSKUWING: Die storie bevat grafiese beelmateriaal wat sensitiewe lesers kan ontstel.

BENONI. – Die Metz-broers van Leeuhof in Vereeniging en hul ma, Lindi Flach, is Dinsdag (2 April) in die hof met lede van ‘orkes vergelyk toe slotargumente in die moordsaak van Benjamin Lotz (52) aangehoor is.

“Hulle het almal in konsert opgetree (op die aand wat Lotz vermoor is). Die een het kitaar gespeel, die een het tromme gespeel en die ander het gesing. Dit was alles deel van een lied wat hulle saam gesing het. ‘n Volledige lied,” het die staatsaanklaer, adv. David Molokomme ter afsluiting van die staat se slotbetoog by wyse van vergelyking aan regter Carla van Veenendal verduidelik.

Die Metz-broers in die hof. Van links: Raymond Metz, Lindi Falch, Shane Metz en Simon Anton “Babatjie” Metz. Foto: Christiaan Cloete

Die drie broers Raymond Metz (21), Shane Metz (24) en Simon Anton Babatjie Metz (18) en hul ma Lindi Falch (44) staan almal tereg op die moord van Benjamin Lotz. Laasgenoemde is dood nadat die seuns op die aand van 22 November 2021 oor sy heining gespring en hom in sy erf aangerand het.

Dit het gevolg nadat die oorledene vroeër die aand glo vir Raymond aangerand het.

Molokomme het benadruk dat hoewel daar min getuienis aangebied is wat daarop dui dat die moord vooraf beplan was, die hof in gedagte moet hou dat hulle almal met dieselfde doel opgetree het en dat hulle almal dus vir sy dood verantwoordelik is.

Shane Metz, wat oor die heining gespring het en Benjamin Lotz (52) in sy erf aangerand het. Foto: Christiaan Cloete

“Soveel as wat hulle ‘selfverdediging’ as verskoning gebruik, was daar geen rede vir hulle om oor daardie heining te spring (en Lotz aan te val nie),” het Molokomme gesê.

Die broers se regsverteenwoordiger, Charles de Beer, het ter afsluiting gesê hy verskil met Molokomme se vergelyking dat dit ‘n “pragtige lied” was (hoewel Molokomme nie daardie woorde in sy vergelyking gebruik het nie).

“Dit was nie ‘n pragtige lied nie. Dit was ‘n baie tragiese scenario wat hom afgespeel het,” het De Beer gesê.

Lindi Falch, wat volgens getuienis haar kinders aangehits het tydens die aanval op Benjamin Lotz. Foto: Christiaan Cloete

De Beer verskil dat die broers as ‘n groep opgetree het om Lotz te vermoor en benadruk dat die ander Metz-broers en hul ma nie eers geweet het dat Raymond ‘n mes by hom het nie.

Volgens De Beer was Lotz die “aggressor” omdat daar getuig is dat Lotz eerste bakstene na die Metz-broers en hul ma, Lindi, geslinger het.

Benjamin Lotz (52), die oorledene, is deur die Metz-broers se regsverteenwoordiger as “die aggressor” beskryf.  Foto: Verskaf
Ben Lotz het na die bloedige aanval gesterf. Foto: Verskaf

De Beer het toegegee dat dit nie nodig was vir die broers om oor die hek te spring nie, maar volgens hom was dit nie hul bedoeling om Lotz te vermoor nie.

Raymond het tydens die saak erken dat hy vir Lotz herhaaldelik met ‘n klein mes gesteek het, maar het ook beweer dat hy ‘n ‘blackout’ gehad het en nie veel daarvan kan onthou nie.

Niemand het tydens die saak verantwoordelikheid geneem vir me. Johannes Mathys Wynand Willemse, Lotz se saamleefmaat, se twee honde wat uitgesit moes word nadat hulle met ‘n skerp voorwerp gesteek is nie.

Simon Anton “Babatjie” Metz, wat eerste oor die heining gespring het om Benjamin Lotz aan te val. Foto: Christiaan Cloete

Volgens Molokomme was die wonde aan die honde gelykstaande aan steekwonde wat met ‘n mes – die soort wat Raymond by hom gehad het – toegedien is.

Die staat het Estivan Delport, ‘n voormalige beskuldigde in die saak wat staatsgetuie gedraai het, as ‘n geloofwaardige getuie beskryf wat “die ekstra myl gegaan het,” toe hy erken het dat hy vir die oorledene met ‘n baksteen op die ken gegooi het.

Hy hoef dit nie te gedoen het nie. Die staat het gevra dat hy van die moord vrygespreek word. De Beer het nie hiermee saamgestem nie en Delport as ‘n getuie van twyfelagtige karakter beskryf.

Raymond Metz gesels met sy regsverteenwoordiger, Charles de Beer, in die hof. Foto: Christiaan Cloete

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button