
VANDERBIJLPARK. – Die Noordwes-Universiteit se Vanderbijlpark kampus het sy hele studenteraad ontbind na ‘n dissiplinêre verhoor wat op 22 Maart plaasgevind het.
Die vyftien lede van studenteraad is na ‘n sitting deur die Dissiplinêre Verhoorkomitee (DVK) skudig bevind dat hulle die institusionele reëls oor studentebestuur oortree het.
Die bevindings is ingevolge paragraaf 3.1 van die NWU Handleiding vir Studentedissipline gemaak. Die studenteraad is skuldig bevind aan wangedrag in ooreenstemming met paragrawe 72-76 van die Statuut, en die Beleid oor Studentedissipline. Die uitkoms van die DVK se bevindings en sanksie is op 3 April 2024 afgehandel, en die kampusbestuur is dienooreenkomstig ingelig.
Volgens Louis Jacobs, NWU se direkteur van Korporatiewe Kommunikasie, hou die oortredings verband met die onrusaksie wat in Februarie op die kampus plaasgevind het.
Gevolglik bestaan daar nou 15 vakatures binne die VPC-SCC. Volgens ‘n skrywe wat in die verband deur die Noordwes-Universiteit uitgereik is sal daar nou voortgegaan word om die bestaande vakatures aan te spreek, gedoen in ooreenstemming met die Institusionele Reëls oor Studentebestuur, om doeltreffende studentebestuur op die Vanderbijlpark kampus te verseker.
Luidens die verklaring sal studentegemeenskap op hoogte gehou word soos vordering in hierdie verband gemaak word. Verdere navrae met betrekking tot Studentelewe-aktiwiteite en -programme moet intussen aan die Kampusdirekteur: Studentelewe, mnr. Chris Williams gerig word.
