Maak seker voor jy bespreek en betaal
'n Plek kan mooi lyk aanlyn, maar maak maar dubbel en dwars seker hoe dit lyk voordat jy betaal.
Visvang is iets wat Vaaldriehoekers lekker behoort te kan doen. Ons bly dan langs die grote Vaalrivier.
Visvangplekke is daar baie, mits jy die regte mense ken of aan ‘n klub behoort. Vir die wat so nou en dan ‘n naweekblaaskans langs die water soek, raak dinge moeiliker.
Te ver kan jy nie ry nie, die petrol is te duur. Eerste stop is om op bakkiesblad en die internet te begin snuffel. Groot fout.
Teorie en praktyk kan drasties verskil en mens leer ‘n duur les. Onlangs het ons by ‘n oord met mooie foto’s op Facebook bespreek.
R630 per nag. Houthuisie op die oewer van die rivier. Eie visvangspasie. Ablusieblok naby. Jy sorg vir alles van ‘n pan tot by beddegoed.
Die plek was op die oewer. Die uitsig was pragtig. Die ablusieblok net so 36 lang treë ver.
Maar, die kamptige houthuisie was niks meer as ‘n skewe krot nie. Die sinkdak roes.

Plek-plek is plastiese sak tussen die dak en die muur ingedruk. Die vloer is duidelik skeef en gekraak. Die houtreling by die trappies is lendelam.
Die houtdeur is so vrot en skeefgetrek, die deur kan glad nie van binne gesluit word nie.
Al die huisies lyk nie ewe sleg nie. Wel, nie van buite af nie. Die oord was nie vol nie.
Op navraag kon geen verduideliking verskaf word hoekom die slegste huisie aan ons toegeken is nie. Die eienaar het verlede jaar se vloed blameer.
Hoekom ‘n vloed blameer as enige een kan sien die plek is skeef en met geen bouregulasies in sig gebou nie?
Hoe enige een mense in so ‘n plek kan huisves is banaal. Die sink en hout gedoente was nie eens geaard nie.
Medehengelaars wees gewaarsku, party plekke is die enigste vissie nie die sous werd nie.
