Swemmende volstruis se ‘mens-ouers’ vertel meer oor hul ‘frats-gans’
Dié jong volstruismannetjie kom klop gereeld aan die deur en stap dan doodluiters deur die Noltes se huis.
SASOLBURG. – Noag se ark vol diere het al lankal in Christi en Marthie Nolte se harte kom anker gooi. Die egpaar bied ‘n veilige hawe vir enige dier – veral dié wat spesiale aandag nodig het. Maar dit was Struisie, hul swemmende volstruismannetjie, wat die egpaar onlangs op nasionale TV laat beland het.
“Ek was die dag op soek na Struisie toe ek gelukkig die ganse op die Vaalrivier sien, met iets soos Loch Ness se gedierte wat agterna swem. ‘n Volstruis se vere is nie gemaak vir swem nie en ek moes toe maar die boot vat en Struisie gaan uithelp,” vertel Christi. Die video wat hy van die ongewone swemmery geneem het, het landwyd aandag op Facebook getrek en is selfs op kykNet vertoon.
Christi en Marthie woon op ‘n rivierplaas tussen Vaalpark en Sasolburg, waar hulle Old Willow No 7 Houseboat Charters bestuur. Christi het Struisie en sy sussie Tinky verlede jaar vir Marthie as ‘n geskenk gegee toe hulle nog kuikens was. Tinky is ongelukkig dood, en Struisie het toenemend ‘n vriendskap met die ganse op die plaas gesmee. Hy het die afgelope 10 maande yslik groot geword en is nou byna soos ‘n familielid in die Nolte-huishouding. Hy kom klop gereeld aan die deur en stap dan doodluiters deur die huis om in die verbygaan ‘n koekie of selfs hondekos te gaps. “Hy is ‘n baie mak, liefdevolle volstruis en sal nie skop of pik nie,” sê Christi, wat Marthie se passie vir die natuur en dierelewe deel.
“Marthie het al vlakvarke, ‘n njala, ‘n kameelperdjie, ‘n swartwitpens, tot ‘n buffeltjie met die hand grootgemaak. Die huisganse Donsie en Gina slaap in die huis, en dan is daar ook twee hans boerbokke Bambie en Chuckie, Dirkie die donkie, en ‘n bonsmarakalf, Prince William, wat nog bottel drink. As Marthie haar diere roep is dit chaos, maar mooi om te sien,” sê Christi.
Hoewel hy ‘n ywerige boer is, is Christi ook ‘n gerekende fotograaf, ‘n avonturier en ‘n opgeleide safari-toergids wat deur die jare al verskeie 4×4-toere na interessante bestemmings saam met Vaalweekblad aangebied het.
“Sodra die rivier weer oop is, gaan ek voëlkykers en fotograwe uitvat om na die groot verskeidenheid voëls in ons omgewing te kom kyk,” beloof hy.





Foto’s onder: Marthie met nog ‘n paar van haar hans-diere



