Local newsNewsNews

Juwelierswarewinkel by River Square beroof

Die eienaar van 'n juwelierswarewinkel is tydens 'n rooftog geskiet.

VEREENIGING. – Die eienaar van ‘n juwelierswarewinkel in die River Square-winkelsentrum in Drie Riviere is Saterdagmiddag (13 April) na ‘n mediese fasiliteit geneem vir behandeling nadat hy glo tydens ‘n gewapende rooftog geskiet is.

Tydens Vaalweekblad se besoek was die polisie en nooddienste op die toneel.

Wilecia de la Porte Lima, ʼn woordvoerder van River Square, het bevestig dat die rooftog laatmiddag op die 13de April 2024 by die Crown Jewellers-winkel plaasgevind het.

“Die saak is vinnig deur winkelsentrum-sekuriteit hanteer en aan polisie oorhandig vir verdere ondersoek.

“’n Besering is aangemeld wat daartoe gelei het dat die persoon na die hospitaal geneem is. Gelukkig kan ons rapporteer dat daar geen sterftes was nie,” het De la Porte Lima aan Vaalweekblad gesê.

Volgens River Square is die veiligheid van alle kliënte en kopers die sentrum se topprioriteit.

“Ons sal voortgaan om waaksaam te wees. Die bestuur van River Square wil graag die polisie en ons sekuriteit bedank vir die vinnige en doeltreffende hantering van die situasie,” het De la Porte Lima aan Vaalweekblad gesê.

Die nuutste insident volg nadat ‘n plaaslike sekuriteitsmaatskappy onlangs kommer uitgespreek het oor ‘n misdadige element in die woonbuurt.

Die rooftog volg skaars ‘n maand nadat rowers op die Arcon Park Shopping Centre toegeslaan het.

Lees die berig hier.

*Hierdie is ‘n ontwikkelende storie. Vaalweekblad kan die berig later opdateer of aanpas soos ons inligting ontvang.

Omstanders by ‘n winkeleienaar wat in ‘n ambulans gelaai is na ‘n gewapende rooftog by River Square Winkelsentum in Drie Riviere. Foto: Christiaan Cloete
Die winkeleienaar in ‘n ambulans in die parkeerterrein van die River Square-winkelsentrum. Foto: Christiaan Cloete

 
Back to top button