Vaal Marathon ploeg terug in gemeenskap
Daar kon danksy die marathon R16 025 vir LifeLine en R14 265 vir Trimed ingesamel word.
VEREENIGING. – Die Vaal Marathon vind jaarliks in die eerste week van Maart by die Dick Fourie-stadion plaas.
Tydens vanjaar se marathon is daar weer duisende rand vir liefdadigheidsorganisasies in die Vaaldriehoek ingesamel.
‘n Bedrag van R10 is op vanjaar se inskrywings gehef om die geld in te samel.
Vanjaar kon die Vaal Marathon Reëlingskomitee altesaam R16 025 vir LifeLine Vaal insamel en R14 265 vir Trimed.
LifeLine Vaal is ‘n nie-winsgewende organisasie wat 24 uur per dag vertroulike berading aan die gemeenskap van die Vaaldriehoek bied.
Trimed, is ‘n sub-akute verplegingsentrum in Drie Riviere.

Die Vaal Marathon Reëlingskomitee het ook R8 000 aan Sharp Emergency Medical Services, ‘n ambulans- en nooddiensverskaffer wat tydens dié marathon bystand gebied het, geskenk.
Altesaam R5 000 is ook aan Proudly Three Rivers, ‘n organisasie wat met behulp van befondsing van die publiek, Drie Riviere in stand hou en slaggate regmaak, geskenk.
R4 000 is ook aan die Hoërskool Overvaal, wat ook met die Vaal Marathon gehelp het, geskenk.
Charl Beukes, voorsitter van Vaal Atletiekklub het tydens ‘n spesiale ete wat Woensdag, 10 April by Anna’s Kitchen in Vereeniging gehou is, alle rospelers bedank wat gehelp het om die marathon weer ‘n sukses te maak.
Organisasies en individue wat met waterpunte op die roete gehelp het is ook bedank vir hul hulp om vanjaar se Vaal Marathon ‘n sukses te maak.
Die Vaal Marathon Reëlingskomitee het ook hul dank teenoor Cape Gate betuig wat al byna drie dekades by die marathon betrokke is in terme van borgskappe.

