Carien (16) is terug in Bloem vir volgende chemoterapie
Sy sal nou sowat vyf dae in die Bloemfonteinse hospitaal behandel word voordat sy weer kan terugkom na Sasolburg.
SASOLBURG. – Die 16-jarige Carien van Dalen, wat onlangs met kanker gediagnoseer is, is tans weer in ‘n Bloemfonteinse hospitaal vir haar tweede sessie chemoterapie.
Vaalweekblad het vroeër berig dat ‘n kankergewas van 7 kg aan Carien se een eierstok in Januarie verwyder is.
Haar eerste chemo-sessie in Maart het nie sonder probleme verloop nie. Kort nadat daar met die toediening in Bloemfontein begin is, het sy ‘n allergiese reaksie gekry en dit moes dadelik gestaak word. Gelukkig kon haar behandeling aangepas word, waarna sy haar eerste sessie voltooi het. Sy is na ‘n paar dae ontslaan en het die afgelope maand in Sasolburg by haar ouerhuis kom aansterk.
Carien, ‘n leerling van die Afrikaanse Hoërskool Sasolburg, ontvang tans haar volgende sessie chemobehandeling, waarna sy weer vir vier weke huis toe mag kom. Daar lê egter nog verskeie sulke sessies voor waarvoor sy gereeld Bloemfontein toe sal moet gaan.
“Die eerste chemobehandeling het die afgelope weke begin inskop en met tye is haar lyfie maar baie pap en haar bloeddruk fluktueer tussen hoog en laag. Sy het ook baie gewig verloor,” sê haar ma, mev. Chrissie Jacobs. Weens die uitwerking van die chemoterapie moes haar pragtige skouerlengte hare onlangs afgesny word.
“Ons harte was stukkend toe ek haar hare moes afskeer. Dit was baie traumaties vir ons… iets wat hierdie ma se hart in duisend stukke gebreek het,” sê Chrissie. “Ons kan nie genoeg dankie sê aan almal wat vir haar bid nie. Ons waardeer dit so baie.”
Carien sal nou sowat vyf dae in die Bloemfonteinse hospitaal behandel word voordat sy weer kan terugkom huis toe. Volgens haar ma gaan dit onder omstandighede goed na gister en eergister se chemo, hoewel sy baie naar en rusteloos is. Deur die swaarkry was daar gister darem ook ‘n hoogtepunt toe sy deur verteenwoordigers van Cupcakes of Hope besoek is. Boonop het hulle gereël dat sy ook besoek ontvang van Dirk van der Westhuizen, een van haar gunstelingsangers, wat die naweek in Bloemfontein vir ‘n optrede was.
Carien se gesin het tans nie ‘n voertuig van hul eie nie en is afhanklik van vriende om haar en haar ma Bloemfontein toe en terug te neem. Enigiemand wat die gesin graag met hul brandstofkoste wil help, kan ‘n donasie inbetaal aan C.M. Jacobs, Capitec Sasolburg, rekeningnommer: 1690486145, takkode: 470010.


