Local newsNewsNews

Leeuhof-moord: Metz-broers en ma skuldig

Die hof het al drie die Metz-broers en hul ma skuldig bevind.

*Die storie het eerste in die gedrukte weergawe van Vaalweekblad (12 April) verskyn. Kry ons koerant op Vrydae vir al die jongste nuus.

VEREENIGING. – Die Metz-broers van Leeuhof en hul ma is Donderdag, 4 April in die rondgaande hooggeregshof in Benoni skuldig bevind aan die moord op Benjamin Lotz (52) na ‘n hofsaak wat oor meer as twee jaar gestrek het.

Regter Carla van Veenendal het bevind dat die staat daarin geslaag het om te bewys dat die beskuldigdes, Raymond Metz (21), Shane Metz (24), Simon Anton “Babatjie” Metz (18) en hul ma, Lindi Falch (44) op die aand van 22 November 2021 die opset gehad het om die oorledene te vermoor toe hulle hom by sy huis gaan konfronteer het.

Shane Metz (24) gesels met sy swanger verloofde, Vicky du Bruyn, nadat hy, sy broers en ma skuldig bevind is. Foto: Christiaan Cloete

Die konfrontasie het gevolg nadat Lotz vroeër die aand vir Raymond en sy vriend, Estifaan Delport, aangerand het tydens ‘n stryery oor harde musiek.

Van Veenendal het die beskuldigdes se weergawes van gebeure, waarmee hulle gepoog het om hulself van die blaam te suiwer, verwerp.

Lindi Falch (44) is saam met haar seuns aan die moord van Benjamin Lotz (52) skuldig bevind. Volgens getuienis wat in die hof gelewer is het sy haar seuns aangehits op die aand wat hulle vir Benjamin Lotz (52) aangeval het. Foto: Christiaan Cloete

Hulle het ‘n versigtig saamgestelde weergawe aan die hof probeer gee, maar hul skuld staan bo redelike twyfel uit,” het Van Veenendal in haar uitspraak gesê.

Oor ‘n bykomende klag van geweld teenoor diere het Veenendal gesê:

Dit is duidelik dat daar ‘n voorneme was om die honde (Willemse se honde) te stuit en dat die honde met ‘n skerp voorwerp gesteek is.”

Die honde het die Metz-broers aangeval toe hulle besig was om die oorledene in sy erf aan te val.

Raymond Metz (21) in die hof saam met ‘n vriendin wat hom kom ondersteun het. Foto: Christiaan Cloete

Raymond, wat erken het dat hy die oorledene met ‘n klein mes gesteek het, het getuig dat alles swart geword het en dat hy nie kan onthou toe hy vir Lotz of die honde gesteek het nie.

Hy kon wel alles onthou wat voor die steekvoorval gebeur het en hoe hy daarna die perseel verlaat het. Sy weergawe is daarom deur die hof verwerp.

Die hof het ook bevind dat Delport, wat saam met die Metz-broers vir Benjamin Lotz op die aand van die moord aangeval het, maar later staatsgetuie gedraai het, alle vrae eerlik beantwoord het en dat hy dus vrygespreek kan word van die aanklagte teen hom.

Die saak is tot 24 Junie uitgestel, 27 Junie en 28 Junie vir vonnisoplegging. Die veroordeeldes is egter tans uit op borgtog tot die vonnisoplegging.

* Adv. Charles de Beer tree namens die Metz-broers en hul ma op en adv. David Molokomme namens die staat.

Simon Anton “Babatjie” Metz is die jongste van die Metz-broers wat skuldig bevind is. Hy was glo die eerste een wat oor die oorledene se heining gespring het op die aand van die moord. Foto: Christiaan Cloete

 
Back to top button