Local newsNews

‘Nie alle staatshospitale is sleg nie’

Die behandeling by sommige private hospitale laat soms ook veel te wense oor!

 

Skrikwekkende verhale van swak toestande by Suid-Afrika se staatshospitale word gereeld gehoor. In baie gevalle is daar nie die nodige toerusting om pasiënte behoorlik te behandel nie. Baie van die hospitale is oorvol en foto’s van pasiënte wat op die vloer moet lê omdat daar te min beddens is, word gereeld op sosiale media gesien.

Tog is daar nog groot getalle personeellede, dokters sowel as verpleeg- en administratiewe personeel by staatshospitale, wat ondanks die uitdagings steeds die allerbeste vir hul pasiënte probeer doen. Hulle hande word egter spreekwoordelik afgekap weens wanbestuur – soos byvoorbeeld die halfgeboude vleuel by die Kopanong-hospitaal in Vereeniging, wat honderde ekstra beddens vir siekes sou kon gebied het…. AS dit voltooi kon word.

Kom ons sê vandag dankie aan die GOEIE personeel by staatshospitale wat steeds hul bes doen vir mense wat nie ‘n mediese fonds kan bekostig nie. En dan is daar ook die ander kant van die munt: Nie alle privaathospitale se personeel lewer sulke uitmuntende diens as wat ons graag sou wou sien nie. Mag hulle Yolande Botha se brief hier onder lees en skaamkry….

Yolande Botha skryf na aanleiding van ‘n lesersnavraag oor die gehalte van diens by die Sebokeng-hospitaal:
Nie alle staathospitale is sleg nie, glo my. Ek het ‘n mediese fonds en weet van ‘n private hospitaal wat slegter is as enige staatshospitaal in die Vaaldriehoek.
Ek was vir dood gelos, was half in ‘n koma, was ‘n geruime tyd nie gewas nie, niks nie. Daar was nooit ‘n verpleegster naby my gewees nie behalwe as die dokter gekom het.
Dankie vir die internis wat besef het wat aangaan en my lewe daar gered het. By dieselfde private hospitaal moet jy verpleegsters omkoop om kos by ‘n kettingwinkel te gaan koop want hul porsies is minder as wat die staat vir ‘n 2-jarige gee. Ek het tot wurms in my aartappeltjies gekry en dit vir hulle gewys – en nie ander kos gekry nie. Let wel, ek is ‘n diabeet wat gereeld móét eet.
My oorlede vader het puik diens by die staat gekry en was tot in Bloemfontein waar hy uitstekende behandeling gekry het. So regtig, nie alle staatshospitale is sleg nie.
Hoe jy deur die personeel van ‘n staatshospitaal behandel gaan word, hang baie af van hoe jy hulle behandel.

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button