EMFULENI. – ‘n Boodskap wat die indruk wek dat daar ‘n tans Cholera uitbreking in die Vaaldriehoek is, is volgens AfriForum fopnuus.
Die boodskap is die afgelope week wyd op sosiale media gedeel en volgens die boodskap het die “Vaalrivier positief vir Cholera getoets”.
Inwoners word dan gevra om nie kraanwater te gebruik nie – “veral wanneer jy nie seker is waar jou water vandaan kom nie.”

Die siekte is inderdaad baie gevaarlik en kan tot sterftes lei, en dit is juis waarom dit besig is om inwoners op hol te jaag.
Lambert de Klerk, AfriForum se bestuurder vir Omgewingsake, wie se naam aan die fopnuus-berig gekoppel word sê: “Die cholera-kwessie was laasjaar gewees. Ek het daai onderhoud laasjaar gevoer.”
De Klerk sê hy vermoed die persoon wat die ou berig uit 2023 opgediep het en nou aanstuur of dit vars nuus is probeer paniek saai.
Volgens De Klerk het hy Dinsdagaand ook navrae oor die boodskap gekry.
“Ek dra glad nie kennis van enige nuwe cholera gevalle of kwessies wat tans aan die orde van die dag is nie,” sê De Klerk.
Lees die oorspronklike berig wat in Mei 2023 verskyn het hier
Wie het die storie by jou aangedra en waar kom dit vandaan? Laat ons weet in die kommentaar?
