Local newsNewsNews

Vaal spog met ons eie Mrs Global Universe Africa

Veels geluk Carla, ons eie Mrs Global Universe Africa

VANDERBIJLPARK. – Carla Marais doen alles met hart en in geloof op haar eie manier. Sy was op haar dag in die Laerskool Frikkie Meyer en die Hoërskool Vanderbijlpark.

Sy verstaan die mense in haar omgewing en sy het empatie met almal wat swaarkry. “Mense het my al uitgebuit, maar ek kan nie anders nie, ek help waar ek kan,” beduie sy.

Sy maak gereeld potte kos wat sy in bakkies skep en onder die haweloses in onder meer CW2 uitdeel.

“Mense sê dis gevaarlik, maar ek doen wat ek moet doen,” verklaar sy beslis. Dan is sy ook betrokke by ‘n huis van veiligheid waar sy die kinders se hare was en sny en gereeld klere en skoene gaan aflewer.

Tans is sy besig om komberse in te samel vir weesdiere en vir haar straatmense. “Die winter is op pad. Almal verdien om ‘n warm kombers te hê.”

Naas haar liefdadigheidswerk het sy ook in 2021 vir die Vaal Pageant ingeskryf. “Dit was op aandrang van my seun. Hy het gesê ons moes dit saam doen. Wel, hy het gewen en ek het darem top 10 gehaal,” lag sy.

Tussen haar werk, projekte, huwelik en kinders het sy nie regtig weer aan die pageant-ding aandag gegee nie. Dit was totdat sy verlede jaar besluit het om in te skryf vir Mrs Africa 2024.

“Die pageant se fokus is 100% op die gemeenskapswerk wat jy doen en ons moes ‘n hele portefeulje saamstel, asook ‘n video.”

Sy vertel dat sy nie verwag het om deur te dring nie en het gevoel sy het haar doel bereik toe sy as een van die 14 finaliste aangewys is.

Die pageant week het van 20 tot 24 Maart in Pretoria plaasgevind. “Ek was oorweldig toe hulle my as Mrs Africa kroon. Die trane het geloop,” glimlag sy.

Nog was dit nie die einde van die aand se verrassings nie. Kort daarna is sy ook gekroon as Mrs Global Universe Africa.

Dit beteken sy gaan Afrika verteenwoordig by die Global Universe Pageant wat van 12 – 19 in Singapoer en Maleisië plaasvind.

Daar is ongelukkig geen amptelike borge vir die geleentheid nie en sy moet nog sowat R56 000 insamel.

“Ek is besig met onder meer ‘n lootjie-projek. Enigeen wat belangstel, kan op my Facebookblad onder Carla Marais gaan loer.”

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button