Local newsNewsNews

Ek sê maar net: “Tannie-juffrou” word ook afgeneem

RUBRIEK. - Klein van postuur, maar vindingryk en vol lewe. Katisha is 'n graad 1-leerling aan die LS Emfulenipark en sy het my week gemaak.

RUBRIEK. – Ek storm vlak voor 08:00 by die laerskool in. Die hoof roep solank sy troepe bymekaar. Die ses kleingoed stap paraat in. Verlustig hulle in die lekkerte om in die personeelkamer te sit en wag.

“Julle moet nou daar sit en kuier. Ek gaan met een op ‘n slag gesels,” beduie ek. Die vierde enetjie wat hand opsteek om nader te staan, is kleiner as die ander.

Ek kan sommer sien sy is in graad 1. Sy gaan sit op die rusbank, gly af, spring op en gaan sit weer. “Kyk tanniejuffrou, ek gly af,” sê sy en demonstreer weer.

Uiteindelik kry ek haar om lank genoeg stil te sit om te gesels. Haar naam is Katisha. Ek kan sien sy kry my jammer toe sy eers vir my moet klank.

Knik tevrede omdat ek ten minste weet hoe om haar van te spel. Sy reken haar arme juffrou merk of boeke of slaap net by die huis.

“Ek hou ook van slaap. Ek het ‘n droompie gehad van hierdie,” en die handjie beduie na waar ons op die  bank sit. “En tannie-juffrou was sooooo beautiful. Nes nou,” glimlag sy.

“Ek gaan nou jou foto neem,” sê ek. Ek het die ander op die hoë stoeltjie laat sit, maar dit lyk skielik vir my baie hoog vir die lewendige enetjie.

“Gaan jy daar kan sit?” vra ek. “Ek is die kleinste van almal, maar ek kan,” kom die vasberade antwoord en woerts-warts klouter sy op

Ek neem die foto. Sy wil eers sien. Ek neem nog ‘n foto. Sy is eers tevrede nadat ek drie geneem het. “Jy moet vir my stuur,” sê sy.

Dan vang sy my onkant. “Ek wil ‘n foto van jou en my saam hê asseblief.”

“Wie gaan die foto neem?” dog ek, ek troef haar, maar intussen het Ava (graad 2) en Lienke (graad 1) nadergestaan om die gedoente te aanskou.

“Gaan jy van my en haar ‘n foto kan neem?” vra ek die enetjie die naaste aan my. Sy knik dadelik. Die ogies blink. Ek beduie vir haar hoe die kamera werk en hoop vir die beste.

Klein Katisha moet eers die foto goedkeur. Sy hou daarvan. “Geniet die res van die dag”, sê sy en verdwyn na haar klas toe. Nodeloos om te sê ek het die res van die dag geglimlag.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button