Local newsNewsNews

AfriForum hou “begrafnis” vir dienslewering

’n Pikswart kis, wat die verval in die dorp simboliseer, is na die munisipale gebou geneem...

PARYS. – Die plaaslike AfriForum-tak het Woensdag (17 April) ’n spreekwoordelike begrafnis gehou vir dienslewering aangesien dié dorp en talle ander onder die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit gebukkend gaan onder swak dienslewering.

Dit kom ná vele pogings van die tak se kant af om afsprake met die burgemeester en waarnemende munisipale bestuurder te maak om swak dienslewering te bespreek.

Die tak wou ook graag tydens só afspraak hulle hulp aan die munisipaliteit aanbied om hulle las te verlig.

Alta Pretorius spreek gehoor toe.

’n Pikswart kis, wat die verval in die dorp simboliseer, is na die munisipale gebou geneem.

Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier, het daar verduidelik dat dienslewering vandag begrawe word aangesien daar nie meer skoon, lopende water, elektrisiteit of ordentlike paaie in dié dorp is nie.

Die Vaalrivier is ook vol riool, die rioolwerke laat veel te wense en selfs die kanale wat vir besproeiing gebruik moet word is vol riool.

Dié tak het ook geëis dat Mokete Phele, die waarnemende direkteur van tegniese dienste, sy bedankingsbrief moet indien.

Phele het in Februarie verlede jaar gesê dat hy sal bedank as die inwoners van dié munisipaliteit nie binne ses maande water het nie.

Daar is byvoorbaat ’n bedankingsbrief teen sy deur opgesit.

Jaco Grobbelaar plak huldeblyk aan dienslewering teen munisipale bestuurder se deur.

Na afloop van die demonstrasie het lede van die Parys-tak gewys dat hulle nie net hande gevou sal sit en wag vir die munisipaliteit om hulle pligte na te kom nie, hulle sal self inisiatief neem.

Stoptekens is opgerig by gevaarlike kruisings en randstene is in die hoofstraat geverf om dit netjies te laat vertoon.

“Dis jammer dat ons vandag hierdie demonstrasie moes doen om reaksie van die munisipaliteit te kry. Die Ngwathe-munisipaliteit se enigste kommer is om ’n salaris elke maand te kry, verder voel hulle ’n veer oor hulle inwoners. Ons hoop dat die regte mense sal intree, maar intussen sal ons self moue oprol,” sê Pretorius.

“Ons het nou al male sonder tal ’n helpende hand na die munisipaliteit uitgesteek. Ons sal egter voortgaan om selfdoenaksies aan te pak om die dorp reg te ruk,” sê Schalk Burger, voorsitter van AfriForum se Parys-tak.

Volgens Jaco Grobbelaar, AfriForum se streekshoof vir die sentraalstreek, het die munisipaliteit die doodskoot vir dienslewering in dié dorp toegedien en hulle moet tot verantwoording geroep word.

“Die burgemeester, Victoria de Beer, die waarnemende bestuurder, Tebogo Manele en Phele het toegekyk hoe dienslewering aanhou agteruitgaan en hulle het niks gedoen nie.”

‘n Plakkaat waarmee daar beswaar aangeteken word teen die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit se gebrek aan dienslewering.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button