Local newsNewsNews

Kabeldiewe loop hul rieme styf

Die vermeende kabeldiewe het hul rieme styfgeloop.

MEYERTON. – Twee kabeldiewe wat koperdrade uit die Telkom-gebou in Jan Neethlingstraat, Meyerton probeer steel het, het hul rieme styfgeloop toe hulle vroeër vandeesmaand deur ‘n reaksiebeampte van Prosec Alarms, ‘n plaaslike sekuriteitsmaatskappy, in hegtenis geneem is.

Volgens George Ellis, die reaksiebeampte van Prosec Alarms, is die eerste verdagte op die oggend van 3 April net voor 05:00 in hegtenis geneem.

Volgens Ellis het ‘n verbyganger wat op ‘n fiets werk toe gery het ‘n lawaai binne die gebou gehoor en onraad vermoed. Die sekuriteitsmaatskappy is in kennis gestel en Ellis is toe na die toneel om ondersoek in te stel.

Volgens Ellis is die verdagte gevind waar hy onder insulasiespons in die dak weggekruip het. Hy het ‘n mes en kabels in sy besit gehad. Die verdagte is in hegtenis geneem.

‘n Tweede verdagte is in hegtenis geneem toe Ellis en twee speurders die volgende dag (4 April) terug na die toneel is en geluide binne die gebou gehoor het.

Volgens Ellis het hulle die verdagte op heterdaad binne die gebou betrap. “Hy het ‘n staalpyp gegryp en op my afgestorm, waar ek in die deur gestaan het. Ek het die deur toegeslaan voor hy kon uithardloop,” vertel Ellis.

Die tweede verdagte is ook in hegtenis geneem.

Die saak word deur die polisie ondersoek.

Een van twee verdagtes wat in hegtenis geneem is nadat hulle na bewering kabels by die Telkom-gebou in Jan Neethlingstraat gesteel het.

Back to top button