Parkies gaan hul tannie Gerda mis
Sy was meer as 32 jaar deel van Kollegepark, maar nou is dit tyd vir 'n nuwe avontuur.
VANDERBIJLPARK. – Dis ‘n aanpassing om nie meer hul tannie Gerda in die kantoor te hê nie.
Sy was maar net altyd daar. Vriendelik, rustig. Vir 32 jaar was Gerda Pretorius deel van Laerskool Kollegepark se lief en leed en het sy menigte goeie en moeilike tye saam met die skool deurgemaak.
Alhoewel sy die personeel, kinders en skool gaan mis, sê Gerda dit was tyd om af te tree.
Die boorling van die Vrystaat het na matriek in Koppies, haar studies by die VUT (voormalige Vaaldriehoek Technikon) voltooi.
Daarna het sy by die destydse Volkskas in Vanderbijlpark gewerk alvorens sy haar as administratiewebeampte by die Vaalweekbladspan aangesluit het.
In 1992 het sy by die LS Kollegepark begin en nooit weer teruggekyk nie. “Ek sal nog kom uithelp, as hulle my regtig nodig het,” beduie sy.
Solank dit nie in die afsienbare toekoms is nie. Vir eers is daar lekker lang kuiers by die kinders en kleinkinders in Australië en Kanada om na uit te sien.
