Titanestryd toe Transvalia en Sasolburg mekaar pak
Dit was ‘n spanningsvolle wedstryd…
VANDERBIJLPARK. – Dit was ‘n naelbytstryd waarin albei spanne hul absolute beste op die veld gegee het.
Hoewel die wedstryd enige kant toe kon gegaan het moes die Hoërskool Transvalia en die Hoërskool Sasolburg se eerste meisies hokkiespanne aan die einde van die wedstryd met ‘n gelykoptelling tevrede wees.
Hoewel nie een van die spanne daarin kon slaag om die wedstryd te wen nie, het hokkie Saterdag, 13 April beslis by die Vaal Universiteit van Tegnologie (VUT) se astro hokkiebaan by die Isak Steyl-stadion geseëvier.
Die Hoërskool Transvalia se eerstes het aan die einde van die eerste helfte met ‘n enkele punt voorgeloop, danksy ‘n doel deur Mari Janse van Rensburg.
Die besoekers kon in die tweede helfte daarin slaag om die telling danksy ‘n doel deur Tayla-Aan Lee te vereffen, wat tot ‘n gelykoptelling van 1-1 gelei het.
Die wedstryd vorm deel van die Vaaldriehoek-liga.
Ander uitslae:
*o.14: SHS 3, Valia 0
*o.15: Valia 7, SHS 0
*o.16: SHS 4, Valia 0
*Tweedes: SHS 2, Valia 0




