Local newsNews

Goud vir Kollegepark in Super 12

Dit was 'n naelkou-eindstryd, maar Kollegepark se o.10-rugbyspan het dapper voortgebeur.

VANDERBILPARK. – Die Laerskool Kollegepark se o.10 rugbyspan het die bykans onmoontlike vermag deur gelykop teen die Laerskool Menlopark te speel in die eindstryd van die Super 12 laerskole B-afdeling by Camp Discovery.

9 April sal vir altyd in die span, hul afrigters en ondersteuners se geheue vasgevang wees.

Bo: Vleis Vosloo vee sy teenstanders weg op pad doellyn toe.

Die LS Menlopark was by verre die gunstelinge om die beker te wen. Die eerste helfte het Menlopark dit dan ook reggekry om twee keer agter die pale te gaan kuier en met rustyd was hulle 14 – 0 voor.

Moet egter nooit ‘n Parkie onderskat nie. Die ystermanne het vroegoggend ‘n les gehad oor Dawid en Goliat en het met ‘n kreet van “ons is Dawid” die tweede helfte aangedurf.

Kaptein Linden le Roux vertel. “Daar was nog net ses minute oor. Ons was 14 – 0 agter.

DIe twee spankapteine Leomand Jacobs en Linden le Roux met die Super 12 trofee. Foto: Gerda Bruinette

“Ons nommer 1, ons stut Vleis (Liam) Vosloo, kry die bal. Tannie, die hele span van Menlopark het hom probeer keer, maar hul kon nie.”

Die doelskop was oor en skielik het die Parkies besef hulle kan nog wen. Met slegs een minuut speeltyd oor is daar weer afgeskop.

Weer het Vleis die bal gekry en weer het hy teen ‘n oormag Menloparkers vorentoe gebeur.

Sy tweede drie in die laaste oomblikke het die telbord na 14 elk geskuif. Nadat die eindfluitjie geblaas het, het die Parkies en hul ondersteuners se vreugde oorgeloop.

“Ons het almal gehuil. Ons was so bly. Dit was soos om die wêreldbeker te wen,” vertel Linden.

Met die goue medaljes om hul nek en die trofee in die kas, weet die span dat al hul harde werk, oefening en sweet die moeite werd was.

Synde dat hul nou eers o.10 is, is die kanse groot dat hierdie span nog menige teenstander gaan laat gras eet in die volgende twee jaar.

Back to top button