Rubriek: Die fyn lyn tussen vernuf en vermaak
Die verskil in prysgeld tussen boks en MMA is hemelsbreed.

Vrouekrieket verstaan en geniet ek. Vrouerugby op internasionale vlak is uitstekend, maar ek dink nie altyd dat dit ’n sport is wat vir die vroulike liggaam soos ’n handskoen pas nie.
Die afgelope naweek het Oleksandr Usyk ’n haas uit die hoed getrek om Rico Verhoeven in die 11de rondte van hul geveg vir die wêreld swaargewigtitel te klop.
Volgens baie mense is die geveg te vroeg gestop, aangesien Verhoeven voor was op punte.
Al het Usyk gesukkel om sy onortodokse teenstander te klop, het hy ’n manier gevind om sy titels te verdedig. Deesdae het almal ’n opinie op sosiale media en vandag word vegters geloof, môre word hulle gekruisig. Ai, dit was een swak vertoning deur die kampioen en almal weet hy het groot geskrik. Wêreldboks het geskrik.
Die ding wat my deesdae die meeste kwel, is MMA. Boksers verdien honderde miljoene dollars, terwyl ouens soos Sean Strickland met ’n miljoen vir ’n titelgeveg in die hok tevrede moet wees. Maar dit is iets waaroor mens nie beheer het nie – dit is hul keuse.
Wat my egter meer laat kopkrap, is die inweegsessies deesdae. Die mans vloek, skree en rand mekaar aan, maar dit is die vroue wat my die meeste laat kopkrap.
Eers daag hulle met aandrokke en hoëhakskoene op om mekaar van aangesig tot aangesig aan te gluur.
Daarna lyk dit soos ’n “striptease” wanneer hulle inweeg. Ja, almal wil so min as moontlik gewig saamdra, maar deurtrekkers en dies meer gaan beslis nie só ’n groot verskil op die skaal maak nie.
Dit is net om die Adamsgeslag se tonge te laat sleep, en dit is baie jammer dat hul lywe eerder as hul vernuf aandag trek.
Hulle het oorgenoeg vaardighede. Die Ronda Rousey- en Gina Carano-berg het toe ’n molshoop gebaar. Rousey het die geveg, wat so opgeblaas is, in 17 sekondes gewen.
Ek gee toe dat vroue en mans dieselfde kan verdien in sport, mits hulle die kykergetalle trek. Ongelukkig, as daar nie boude op die sitplekke en oë op die skerms is nie, gaan mans meer verdien.
Die Proteas se vrouekaptein, Laura Wolvaardt, is haar gewig in goud werd en het gewys dat vrouekrieket jaarliks verbeter en kykergetalle met puik krieket die hoogte laat inskiet.
Ons nasionale vrouespan skop op 13 Junie in die Verenigde Koninkryk sy veldtog in die Vroue-T20-Krieketwêreldbekertoernooi teen Australië op Old Trafford af.
Die Proteas het al drie keer tot die eindstryd deurgedring, maar hoop om vanjaar al die pad te gaan. So, skuif op 13 Junie voor die kassie in dat die Eva-geslag jou op die regte manier vermaak!
