Sonskynkind benodig terapie en fondse
Klein Miané (3) se gesiggie straal, maar sy benodig dringend ekstra terapeutiese hulp om haar spiere te ontwikkel. Lees meer...
SASOLBURG. – Sy is haar oupa se oogappel en haar ouma se prinses. Haar ma Beonette en pa Jacques se trots. Miané Grobler (3) se ogies blink en haar glimlag is breed.
Sy sit op haar knieë, iets wat sy eers verlede jaar kon regkry. Praat kan sy nog nie, maar die gesiggie weerspieël vele emosies. Klein Miané is serebraal gestremd na komplikasies tydens haar geboorte en is ook ‘n epilepsie lyer.

Haar spierontwikkeling is erg aangetas en alhoewel sy probeer om self te staan het sy tans nie die nodige balans nie. Miané benodig dringend ‘n staanraam, voetstutte en ‘n spesiale loopraam.
“Haar haksenings is te styf op die stadium, wat beketen dat sy heeltyd op haar tone probeer staan. Die regte voetstutte en loopraam sal met die probleem help,” verduidelik haar oupa, Hannes Hattingh.
Die gesin het nie ‘n mediese fonds nie, maar sê dat hul nog altyd goeie diens by die Sasolburg Hospitaal ontvang het. “Miané gaan maandeliks vir arbeids-, fisio- en spraakterapie by die staatshospitaal. Die probleem is dat dit te min is vir haar ontwikkeling.

“As daar terapeute is wat bereid is om haar op ‘n meer gereelde basis te help, sal ons dankbaar wees,” sê Hannes.
“Ek lees baie op oor serebrale gestremdheid. Daar is baie ontwikkeling en navorsing by die Groote Schuur Hospitaal in die Weskaap, maar ons het nie sulke gevorderde sentrums hier nie,” sug Hannes.
Erna en Hannes reël ‘n gholfdag om fondse in te samel om die nodige ortopediese hulpmiddels vir Miané te bekom.
Die fondsinsamelingsdag vind plaas Vrydag, 21 Junie by Heron Banks in Vaalpark.
Vir meer inligting oor die gholfdag en om moontlik gaatjies te borg of f inansiële of terapeutiese bystand vir Miané te bied, kontak vir Hannes by 072 619 1821 of Erna by 076 598 5446.

