Local newsNewsNews

Ek sê maar net: Toe slaat ek neer

RUBRIEK. - Dit was 'n harde slag, al het dit net in my eie ore weerklink.

RUBRIEK. – Ons het lank beplan aan die naweek weg. Die idee was om te gaan visvang. Vaaldam is te ver en ons hou by die Vaalrivier.

Alles het goed verloop, die hout-ensinkkrot waarin ons gebly het, ten spyt. Dit was tot Vrydag laataand.

Buite was dit donker en redelik nat na ‘n bui reën vroeër. Die ablusieblok is ‘n ent weg. So hier en daar is ‘n lig om die modder- en graspad aan te dui.

Noodwendig moet mens die een of ander tyd ‘n draai daar maak. Ek baan my weg, kaalvoet, dit was seker fout nommer een, na buite.

Voel-voel teen die hut se muur af tot waar ‘n helpende hand na my uitgesteek word. Ek vat sy hand, onthou van die groot trap, maar vergeet geheel en al van die kleiner trap.

My voet gly op die onderste trap en ek dag my lewe is verby. Vir ‘n halwe oomblik in tyd dink ek ek gaan my kop teen die lendelam houtreling stamp, maar wonder-bo-wonder mis ek die reling net-net.

Ek tref die harde trap met ‘n slag en knyp my oë styf toe, bang die ander kampeerders storm uit. Blyk toe die slag het net in my eie ore weerklink.

Daar sit ek toe op die koue trap. Grootoog met ‘n been wat brand. Daar was nie tyd om eers my wonde te besigtig nie.

Die oorspronklike doel van die uitstappie in die donker was steeds daar. In die donker het ek geheel van die onderste trap vergeet.

Terug in die relatiewe lig van die hut, kry ek die versekering daar is ‘n blou kol in wording, maar gelukkig niks bloed nie.

Die res van die naweek het ek die trap behoorlik bekruip. Die reling stewig vasgevat en baie stadig op en afgeklim.

Geval het ek darem nie weer geval nie, maar op ‘n stadium het ek wel ‘n splinter in my vinger gehad van die reling vasklem.

Die is darem sonder omhaal verwyder. Geen ernstige wonde is oorgehou nie en die blou kol was toe nie so epidermies groot soos wat ek gedink het dit gaan wees nie.

My ego het wel ‘n knou gekry. Al waaroor ek dankbaar is, is dat dit donker was en geen foto’s of video’s van die harde slag geneem is nie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button