Ek sê maar net: Jong superhelde ontdek ‘n kamera
RUBRIEK. - Wanneer jy 'n klomp superhelde op 'n allemintige verjaarsdagpartytjie wil afneem.
RUBRIEK. – Verlede Woensdag gaan draai ek by die Laerskool Kollegepark. Hul hoof, Coenie Herbst verjaar en die hele skool vier elke jaar fees.
Op pad na die pawiljoen besef ek al die tema is superhelde. Daar is alles van Spiderman en Batman tot Supergirl en selfs ‘n Buzz Lightyear of twee.
Almal wag in spanning vir die aankoms van hul meneer Coenie. ‘n Vrolik geverfde voertuig maak ‘n verskyning op die veld en die kinders begin soos een man te dreunsing, “meneer, meneer, meneer.”
Meneer klim uit in ‘n wolfpak kompleet met ‘n bruin stert. Die hoofleiers is paraat om hom in Teenage Mutant Ninja Turtle pakkies.
Hy kry sy geskenke. Die skool sing vir hom en dan is dit tyd vir hul piekniek. Daar word plegtig kombersies uitgegooi, gespeel en geëet.
Ek begin foto’s neem. Sukkel om party se name te hoor en hoop maar ek spel reg.
Vier Spidermans reken ek moet al vier van hul afneem. Dit veroorsaak eers ‘n gedoente, want die een sukkel met sy masker en kry net nie die oë-gate voor op sy gesig nie. Die ander een se rooi handskoene sukkel.
“Dis hoekom ek ‘n harde (plastiese) masker het,” is al wat die klaskaptein in die middel droog opmerk. Ek neem die foto en dwaal verder.

Sien hoe die graad 4’s saamdrom om elkeen ‘n drukkie by Mnr Coenie te kry en loop my vas in die graad 1’s. Hulle hou van die kamera. Sommer baie.
“Neem gou ‘n foto asseblief, tannie. Van ons saam.” “
‘n Foto van my ook tannie, maar ‘n alleen foto.”
“Werk tannie vir die koerant?”
Ek gee moed op om almal se name te kry. Druk die knoppie vir almal wat vra en beduie dan dat ek moet gaan werk.
“Geniet jul piekniek verder,” seg ek vir my nuwe maatjies. Op die trap op pad van die veld af, word ek vir oulaas voorgekeer.
“Sal tannie my afneem. Kyk, ek kan op die rand loop,” sê ‘n Superman, wat ek tot sy ontsteltenis as Spiderman aanspreek.
“Moenie daar afval nie,” waarsku ek benoud. “Die af is maklik tannie. Watch,” beduie hy en spring met flair van die muurtjie af.
‘n Vrolike lot, die klomp Parkies, en duidelik baie lief vir hul skoolhoof.
