Rioolbesoedeling: Kriminele klag teen Emfuleni munisipale bestuurder
AfriForum meen die munisipale bestuurder van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit moet krimineel aanspreeklik gehou word vir die besoedeling van die Vaalrivier.
Die burgerregteorganisasie AfriForum sê hy het ‘n kriminele klag teen April Ntuli, die munisipale bestuurder van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit gelê vir die storting van rou riool in die Vaalrivier.
Die burgerregteorganisasie dring daarop aan dat Ntuli in sy persoonlike hoedanigheid vervolg moet word.

AfriForum sê dié grootskaalse storting bied onder meer ’n gunstige teelaarde vir verskeie indringerplantspesies, insluitende waterslaai (Pistia stratiotes), waarvan die voorkoms sedert einde verlede jaar kommerwekkend toegeneem het.
AfriForum het ook die regering gekritiseer vir hul afwesigheid in die takeling van hierdie kritieke probleem.
Die burgerregtegroep en verskeie ander organisasies en lede van die gemeenskap is maande lank al reeds hard aan die werk om die verspreiding van dié indringerspesie te beperk en sodoende die sensitiewe Vaalrivier-ekosisteem te beskerm.

Volgens Jaco Grobbelaar, AfriForum se streekshoof vir die Sentraalstreek, sleep die regering al maande lank voete met die waterslaaikrisis.
“Alhoewel die regering al talle vergaderings met die gemeenskap belê het, vat hulle maande om spesifieke aksies vir die takeling van die probleem goed te keur. Uiteindelik kom dit telkens neer op die gemeenskap om hand in die sak te steek en self aan die werk te spring om dié natuurramp te beveg,” sê Grobbelaar.
Tydens ’n onlangse openbare vergadering het regeringsamptenare aangevoer dat die regering slegs R2 miljoen beskikbaar het om aan die Vaalrivierkrisis te spandeer. Dít ten spyte van die feit dat Barbara Creecy, minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, in November verlede jaar ’n R2,6 miljard-program, “Working for Water”, bekendgestel het vir die beheer van uitheemse indringerspesies en die herstel van natuurlike habitatte.

Grobbelaar benadruk dat die finansiering vir die verwydering van waterslaai in die Vaalrivier tot dusver alleenlik uit die sakke van die gemeenskap gekom het. “Intussen laai die regering maandeliks hul sakke met belastinggeld wat veronderstel is om vir die aanwending van hierdie projek toegeken te word,” verduidelik hy. “Hoewel die spuit van onkruiddoder op waterslaai in die Vaalrivier wel onder die toesig van Rand Water gedoen word, wil ons graag sien dat die regering ook iets daadwerkliks begin doen om hierdie indringerplante uit die rivier te verwyder.”
Die verval van rioolaanlegte in die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit staan boonop, volgens Grobbelaar, aan die kern van die huidige probleme in die Vaalrivierstelsel. “Grootskaalse besoedeling vind op ’n daaglikse basis in die Vaalrivier plaas en is die primêre oorsaak van die onbeheerde groei van waterslaai hier. Ons sal voortgaan om druk op die owerhede te plaas om rioolaanlegte reg te bestuur. Sodoende sal ons die sekondêre probleem, naamlik die groei van waterslaai, kan pak. Die gemeenskap takel tans die sekondêre probleem, maar die regering moet ook nou sy plig rakende die primêre oorsaak dringend nakom.”
AfriForum moedig ook die publiek aan om klagtes rakende die storting van onverwerkte riool by die Menseregtekommissie (MRK) in te dien. “Burgers het die reg tot ’n skoon en veilige omgewing. Op die oomblik skend die regering daardie reg en moet tot verantwoording geroep word om dit reg te stel,” sluit Grobbelaar af.

